Opskorting van hekwagte laat bejaardes onveilig voel
Tans is dit moontlik vir enigiemand om enige tyd van die dag of nag toegang tot die perseel te verkry.
Die inwoners van die Tweedy Park Kompleks, waarvan die groter meerderheid bejaardes is, is van mening dat hul veiligheid in gedrang is, nadat die hekwagte by die kompleks aan de begin van die jaar permanent verwyder is.
Om die situasie te vererger, is daar ‘n groot opening in die omheining, wat reg om die kompleks strek, nadat ‘n voertuig aan die einde van Februrie daardeur gebars het, na ‘n ongeluk.
Die feit dat enigiemand nou toegang tot die kompleks het; hetsy deur die onbemande hek of die groot opening, in die heining, is vir baie inwoners groot rede tot kommer.
Die kompleks bestaan uit vier komponente, naamlik die Eric Holdtman Dienssentrum, die Frank Mynhardt Sorgsentrum, ‘n blok woonstelle vir enkelpersone en ‘n aantal huise, wat deur twee persone bewoon mag word.
Bibi Stols, voorsitter van die dienssentrum, het verduidelik dat die staatsubsidie, wat ontvang word nie naastenby voldoende is om ook voorsiening te maak vir die betaling van die hekwagte nie.
“Inwoners van die vier komponente het self maandeliks bygedra om die salarisse van die hekwagte te dek,” het sy verduidelik.
“Ons het gevra dat mense bydra, wat hulle ookal kon, en dit was vir ons moontlik om die maandlikse uitgawe vir die hekwagte te dek,” het Stols verduidelik.
“Ongelukkig kon baie mense nie meer bekostig om bydraes te maak nie en moes ons noodgedwonge die hekwagte se diens beinding,” het sy bygevoeg.
Alhoewel die hekwagte nie deur die kompleks beweeg het nie, het die toegangsbeheer tog ‘n mate van gerustheid onder die inwoners geskep.
Tans is dit moontlik vir enigiemand om enige tyd van die dag of nag toegang tot die perseel te verkry.
‘n 68-Jarige inwoner, wat versoek het dat haar naam nie gepubliseer word nie, het aan die Herald gesê dat vyf mans sowat twee weke gelede op ‘n Sondagmiddag van huis tot huis gestap het en gevra het vir ou juwele om te koop.
“Dit is iets wat nie sommer gebeur het nie, aangesien daar kontrole by die hek was,” het die vrou gesê.
Peet Jonker (78), wat die afgelope 10 jaar in die kompleks woon, het gesê dat die huidige situasie beslis nie ideaal is nie.
“Ek is in die proses om met almal te gesels sodat ons weer bydraes kan maak om ten minste wagte vir die nag aangestel te kry,” het hy gesê.
“Ek hoor baie klagtes van mense wat sê dat hulle veral in die aande ongerus voel.”
“Bedags is almal ook besig in hul tuine of met wasgoed en die huisies se deure staan uit die aard van die saak oop. Dit is baie maklik om ‘n teiken te word van diefstal of selfs iets erger,” het Jonker gesê.
Hy het bygevoeg dat ‘n ongewenste persoon, wat in ‘n buitegebou (toilet) geslaap het, onlangs betrap is.
‘n 66-Jarige inwoner, wat relatief naby an die hek woon, het gesê dat die situasie eintlik onaanvaarbaar is.
“Ek dink dit is net ‘n kwessie van tyd voordat hier iets skeef gaan loop,” het hy gesê.
Bibi Stolts het aangedui dat sy reeds die gat in die heining onder die aandag van die munisipaliteit gebring het.
Die Herald het die Ekurhuleni Metro genader vir kommentaar oor die heining wat herstel moet word.
Sodra terugvoering ontvang word sal dit gepubliseer word.
Lees ook:
Elderly are still trapped in Tweedy Park
Broken lift leaves elderly stranded



