Chanel Lategan (13) is vanjaar die hoofdogter van die Laerskool Dalview. Haar trotse ouers is Andries en Anel Lategan. Haar boeties en sussies is Marcel (21), Shimoné (18) en Andries-Willem (15). Die gesin woon in Sonneveld.
- Het jy ooit gedink dat jy die hoofdogter van jou skool sou word?
Nee, ek het dit nie verwag nie. Ek het wel daarvoor gewerk, maar nie gedink dat ek so gelukkig kon wees nie, want daar is baie oulike meisies in my graad.
- Hoe het jy gevoel, toe hulle tydens die skool se prys uitdeling vir 2015, aankondig dat jy die hoofdogter is?
My hart het in my ore geklop, en dit het gevoel asof my bene jellie is. Ek moes ‘n toespraak maak, en kon nie eintlik later onthou wat ek gesê het nie. Die besef het eers heelwat later ingesink, maar ek is baie bly dat ek gekies is, dit is ‘n groot eer.
- Is dit ‘n moeilike taak om hoofdogter te wees?
Nee, die riglyne van dit wat van my verwag word, is in ‘n leier handleiding vir my gegee, en ons was op ‘n leierskamp waar ons opleiding ontvang het.
Ons is ‘n span wat goed saamwerk, en ek kan enige tyd vir ons leier voogde vra om te help met iets as ek twyfel.
- Het jy meer pligte as die ander leiers in die groep?
Ja ek het, ek is in die oggend al voor 7vm by die skool, en dit is my taak om te verseker dat die leiers by hul diens punte diens doen, en dat alles op die speelgrond goed gaan. Ek moet beskikbaar wees om onderwysers te help wanneer hulle my nodig het.Ek moet ook notules hou van ons weeklikse vergaderings en seker maak dat enige probleme aan die leier voogde gerapporteer word. Daar is ook funksies waarby ek betrokke moet wees en waar ek diens moet doen.
- Watter deel van skool gaan is vir jou die lekkerste?
Ek geniet NW (natuur wetenskap) en wiskunde. Ek het soms pouses af, en dan geniet ek dit om met my beste vriendin te gesels oor alles. Ek geniet ook die koorsang baie.
- Watter deel van skool gaan geniet jy nie baie nie?
Eksamen tye, want dan is daar baie druk en min tyd om alles gedoen te kry wat ek moet. Ek het darem geleer om vooraf te beplan, en dan is alles makliker.
- Beoefen jy sport. Vertel meer?
Ja, ek speel hokkie, tennis, en doen atletiek. Hokkie is my gunsteling sport. Ek ry ook perd, en doen musiek.
- Jy is al sedert die begin van jou skoolloopbaan in die top 10 akademiese span. Leer jy baie hard of is jy een van die gelukkiges wat nie hard hoef te leer nie?
Ek moet hard werk. Gelukkig leer ek vinnig, en ek hou van leer en lees. Die top tien is nie vir my so belangrik nie, dit is net ‘n bonus.
- Dink jy jong kinders spandeer te veel tyd op hul selfone?
Ja, ek dink beslis so. Niemand kommunikeer meer van gesig tot gesig met mekaar nie. Niemand ry meer fiets en speel net lekker nie. Alles gebeur nou net op selfone en dit is jammer.
- Wat is jou gunsteling kleur?
Ek het ‘n paar gunsteling kleure; pers, pienk, lig blou en lemmetjie groen; dit hang af hoe ek voel.
- Waaraan smul jy graag?
Sjokolade, biltong, vrugte en pizza.
- Sal jy vir drie dae in ‘n veld kan oorleef as jy net water en vuurhoutjies by jou het?
Ja, ek dink so. Ek is in my hart ‘n plaasmeisie, en ek hou van die natuur. Ek sal ‘n vuurtjie maak, veldkos bymekaar maak, en die water sal my help oorleef vir drie dae.
- Wat maak jou bang?
Ek is bang vir motte, spinnekoppe, slange en donderweer. By die see is ek bang vir haaie. Soms is ek bang vir die donker, maar dan onthou ek net Jesus is altyd by my.
- Wat laat jou lekker lag?
My familie, my boetie , Jodine (my vriendin), my hond, ’n lekker snaakse fliek.
- Het jy al gedink oor watter beroep jy eendag wil volg?
Ja, ek dink aan ‘n paar goed soos; ‘n dokter, veearts, verpleegster, onderwyser, aktrise, joernalis of ouditeur. Maar ek is nog glad nie seker nie. Ek sal maar aanhou hard leer, en wanneer ek ouer word, sal ek hopelik my drome kan najaag.



