Hond getraumatiseerd nadat inbrekers hom seermaak
“Dit is erg genoeg dat die vuilgoed by jou plek inbreek en jou goed steel, maar om ’n dier seer te maak is doodeenvoudig net nie reg nie.”

’n 19-Jarige inwoner van Gladstonelaan het Maandag haar hond erg getraumatiseerd aangetref nadat daar by haar woonstel ingebreek is.
Daar word vermoed dat die dief of diewe die hond geslaan of geskop het toe hulle by die woonstel ingebreek het.
Nolene Coetzee het aan die Herald gesê dat sy Maandagmiddag ongeveer 12.30vm gou winkel toe gestap het.
“Ek het my Labrador, wat nog jonk is, in die woonstel toegemaak, want ek was bang dit kom by die erf uit.”
“Ek was net sowat ’n halfuur weg en toe ek terugkeer het ek gesien dat een van die vensters van die woonstel gebreek is,” het Nolene vertel.
By nadere ondersoek het sy besef dat daar by haar tuinwoonstel ingebreek is. ’n Kamera, selfoon en juwele is gesteel. Sy het ook haar rekenaar se skerm buite opgetel.
“Wat my egter die meeste ontstel het, was die toestand waarin my hond was. Dit was so duidelik soos daglig dat hulle die hond seergemaak het.”
“Hy was baie bang en het die hele tyd getjank. Ek het mooi gekyk of daar enige beserings aan hom was, maar kon niks sien nie.”
Volgens Nolene het die hond later bedaar.
“Dit is erg genoeg dat die vuilgoed by jou plek inbreek en jou goed steel, maar om ’n dier seer te maak is doodeenvoudig net nie reg nie,” het Nolene gesê.
Die saak is by die SAPD aangemeld.
Lees ook:
Twee mans in die sop na hul met hondjies in die kroeg wil kuier
DBV liefdadigheidswinkel meer toeganklik
Robbers terrorise little girl who is home alone
Rowers dreig vrou, vat haar handsak en foon



