
‘n 78-Jarige vrou van Brenthurst is Donderdagmiddag op ‘n slinkse wyse van haar beursie beroof.
Die drie vroue wat haar beroof het, het ‘n ou skelmstreek gebruik om die niksvermoedende bejaarde te teiken.
“Ek was in ‘n supermark in die dorp om ‘n paar goedjies te kry. Ek het ‘n trollie gestoot en my handsak was oor my skouer, maar ongelukkig was dit nie heeltemal toe nie,” het sy vertel.
Volgens die bejaarde het ‘n vrou (ongeveer 35) van voor met ‘n trollie gekom en een het haar van agter genader. ‘n Derde vrou het van die kant gekom.
“Dié een het hard aan my gestamp, oor my geleun en vir my gevra om vir haar hondekos aan te gee,” het die vrou vertel.
“Ek het vir haar gesê dat sy dit self kan doen en op dié oomblik het die een voor my ook begin praat, sekerlik om my aandag af te lei.
“Die volgende oomblik het al drie vroue soos mis voor die son verdwyn en het ek dadelik besef dat ek beroof is.
“Ek kon nie glo toe ek kyk en sien my beursie is weg nie. Dit het so ongelooflik vinnig gebeur.”
Die vrou sê dat sy nie veel hulp van die sekuriteitspersoneel ontvang het nie, en dat sy die voorval by die SAPD gaan aangmeld het.
“Ek wil hê almal, maar veral bejaardes, moet hierdie berig lees en baie versigtig wees,” het sy gesê.
Benewens kontant wat in die beursie was, is die vrou ook haar bestuurderslisensie en ander kaarte kwyt.
Lees ook:
Supermarket fraudster robs pensioner
Volg ons:
Ontvang die nuutste nuus op jou foon:
WhatsApp nommer: 0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)



