Rowers teiken nog ‘n ma met kind in stootwaentjie
“Die volgende oomblik was daar twee mans by my, wat my arms vasgedruk het en my teen die stootwaentjie gestamp het.”
Nog ‘n voorval waar rowers ‘n vrou, wat haar kind in ‘n stootwaentjie gestoot het, geteiken het, het Vrydag voorgekom.
Die Herald het verlede week berig oor ‘n voorval waar rowers gedreig het om ‘n vrou se baba te vat (Rowers sê hul sal baba vat).
In die jongste voorval was die ma alleen met haar kind toe twee booswigte toegeslaan het.
Amanda Hurter (27) van Gladstonelaan het vertel dat sy Vrydagmiddag ‘n entjie saam met ‘n vriendin na haar huis gestap het.
“Ek het terug gedraai en in Voortrekkerweg gestap met my kind, Danelle (1), wat in ‘n stootwaentjie was,” het Hurter vertel.
“Sy het begin huil en ek het gestop om vir haar, haar bottel te gee.”
“Ek was nog besig met Danelle toe ek stemme reg agter my hoor.”
“Die volgende oomblik was daar twee mans by my, wat my arms vasgedruk het en my teen die stootwaentjie gestamp het.”
“Ek dink hulle moes my dopgehou het, want een van hulle het dadelik my selfoon uit my denimbroek se sak gehaal.”
Nadat die rowers die selfoon gevat het, het hulle weggehardloop.
“Ek het baie groot geskrik en die hele voorval pla my nog steeds.”
“Alles het baie vinnig gebeur en ek is bly dat ek en Danelle nie seergekry het nie,” het Hurter gesê.
Die voorval is by die Brakpan SAPD aangemeld en word ondersoek.
Volg ons:



