CrimeEditor's choiceNews

Begraafplaas rower sê “sorry ouma” toe hy vuurwapen op haar rig

“Ek sal nou altyd bang wees om my man se graf te besoek en dit is vir my baie hartseer, maar dit is doodeenvoudig net nie veilig nie.”

‘n Bejaarde inwoner van die dorp is erg getraumatiseerd gelaat nadat sy en haar dogter gistermiddag (Woensdag) deur twee mans in die Brakpan begraafplaas oorval en beroof is.

Die aanvallers was met ‘n vuurwapen en ‘n mes gewapen en Susan de Wilde (78) was buite haarself van vrees toe sy sien hoe een van die mans die mes teen haar dogter se sy druk.

Min het sy geweet dat die man agter háár deurentyd ‘n vuurwapen op haar gerig gehou het.

De Wilde se man, Albert (85), was gister twee jaar oorlede en sy en haar dogter, Marietjie Botha (54), het die graf gaan opknap en blomme gaan laat.

“Ons was pas klaar en die volgende oomblik was daar twee mans by ons. Nie ek of Marietjie het hulle sien aankom nie, hulle was net ewe skielik by ons,” het De Wilde vertel.

Een van die booswigte het ‘n mes teen Botha se sy gedruk.

Die ander een het agter De Wilde gestaan en ‘n vuurwapen op haar gerig, maar sy was nie daarvan bewus nie.

“Marietjie het wel gesien dat die man ‘n wapen op my rig en sy het by die mans gepleit om my net nie seer te maak nie,” het De Wilde gesê.

Die man agter De Wilde het deurentyd vir haar gesê “sorry ouma”, maar die rower, wat Botha aangehou het, was baie meer aggressief.

Dit was ook hy wat die voertuig en Botha se handsak, wat in die voertuig was, deurgesoek het.

Hy het haar ook beveel om haar juwele af te haal.

Die twee rowers het met ‘n selfoon, kleingeld wat in die voertuig was en die juwele op die vlug geslaan.

“Alles het so vinnig gebeur. Toe die mans pad gee het ons in Marietjie se voertuig geklim en vinnig weggery,” het De Wilde gesê.

“Ek sal nou altyd bang wees om my man se graf te besoek en dit is vir my baie hartseer, maar dit is doodeenvoudig net nie veilig nie.”

Die voorval is by die SAPD aangemeld.

Lees ook: 

Dit voel of ek my man in die steek gelaat het 

Rowers gooi man in oop graf

Begraafplaas hou gevaar in 

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button