Duisende matrieks het Vrydag hul uitslae ontvang, nadat dit Donderdag amptelik deur die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, bekend gemaak is.
Die hoof van die Hoërskool Stoffberg, Koos Boshoff, was vanoggend op sy pos om die matrieks van 2017, wat hul uitslae by die skool gaan afhaal het, geluk te wens.
“Ons is dankbaar en baie trots dat ons vanjaar weereens ’n 100 persent slaagsyfer behaal het,” het Boshoff gesê.
Hy het groot lof gehad vir elke matrikulant wat hul kant gebring het, maar veral vir die top presteerders.
Die skool se top presteerder is Junél Levin, wat sewe onderskeidings behaal het in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, rekeningkunde, besigheidstudies, ekonomie en rekenaartoepassingstegnologie. Sy het ’n onderskeiding in wiskunde met slegs een persent misgeloop.
Lees ook: Disappointing matric results: take action
Zani van Vuuren en Charné Sieberhagen het elk ses onderskeidings behaal.
Zani het onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, drama, visuele kunste en toerisme losgeskryf.
Charné het onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, drama, ekonomie en rekenaartoepassingstegnologie behaal.
Arné Nienaber en Ian Venter het elk vyf onderskeidings behaal, terwyl Charlene du Toit en Dennita Potgieter drie gekry het.
Agt leerders het elk twee onderskeidings behaal en 14 matrieks het elk een onderskeiding losgeskryf.
Follow us:




