Rolstoel is na agt jaar kapoet maar geld vir ’n nuwe een is daar nie
’n Inwoner van die dorp wat in 2010 ’n rolstoel van ’n barmhartige samaritaan ontvang het sit nou weer in ’n verknorsing aangesien dié rolstoel na agt jaar so te sê gedaan is.
Maryann van Greuning (64), van Hoylaan, se dogter Mary-Ann het in 2010 ’n brief aan die Herald gestuur en haar ma se situasie verduidelik.
Maryann is ’n diabeet wat maandeliks met ’n ongeskiktheidspensioen moet klaarkom.
Die diabetes het deur die jare haar gesondheid in so ’n mate geaffekteer dat sy dikwels nie kan loop nie en van ’n rolstoel afhanklik is.
Destyds was finansies vir ’n rolstoel nie daar nie en nadat die Herald die brief in 2010 gepubliseer het, het Maryann ten minste 30 oproepe ontvang van mense wat wou help.
Lees ook: Jou bloed kan ’n lewe red
Sy het uiteindelik ’n rolstoel, wat in ’n baie goeie toestand was, van ’n weldoener ontvang.
Dié rolstoel het sy vir die afgelope agt jaar gebruik, maar dit is nou gedaan.
Stukke van die rubber van die wiele het al losgekom. Die kleefband wat om die wiele gedraai is help nie veel nie.
“Om ’n nuwe stoel te koop is steeds nie vir my ouers ’n opsie nie en ek hoop dat daar weer iemand sal wees wat ons met ’n bruikbare stoel sal kan help,” het Mary-Ann in ’n brief aan die Herald gesê.

Persone wat moontlik kan help kan Maryann se eggenoot, Hennie (72) by 079 744 6334 skakel.
Volg ons:



