Met ’n hekelpen in haar hand is die kind baie gelukkig
Dit gebeur nie aldag dat ’n nege-jarige kind kan spog met ’n kombers op haar bed wat sy self gehekel het nie.
Juliegh-Ann Kruger van Brakpan-sentraal is egter super trots op die kleurvolle blokkies kombers waaronder sy nou lekker kan inkruip.
Dit het die kind met die lang bruin poniestert nege maande geneem om die enkelbed kombers te hekel, maar sy het elke oomblik daarvan geniet.
Volgens haar ma, Amelia, het Juliegh-Ann al op agt-jarige ouderdom begin hekel.
“Sy het sowat nege maande terug begin om die kombers te hekel en ek en haar pa, Chris, was baie trots op haar toe sy dit voltooi het,” het Amelia vertel.
Lees ook: Rolstoel is na agt jaar kapoet maar geld vir ’n nuwe een is daar nie
Juliegh-Ann het geen hulp gehad nie, behalwe dat ’n familielid vir haar ’n randjie om die kombers gehekel het.
“Dit was vir my baie lekker om te dit doen en die kombers lyk ook mooi op my bed,” het Juleigh-Ann vertel.
“Ek wil nou kyk of ek vir my ma en pa se bed ook een kan hekel,” het sy bygevoeg.
Die vriendelike Graad Vyf leerder van Laerskool Die Arend geniet dit ook om te bak en brou, om kitaar te speel en naaldwerk te doen.
Volg ons:



