In die kollig: Leer Brakpan se mense ken
Steven Weber van die Sonneveld Akademie is die week se kollig persoon.
Steven Weber (54), ’n inwoner van Brenthurst, is die skoolhoof van die Sonneveld Akademie. Hy is getroud met Jane Weber (53), wat die departementshoof in die grondslagfase by dieselfde skool beklee. Die egpaar is die ouers van twee jong mans, Steven (29) en Wihan (26).
• Hoe lank is jy al die hoof van Sonneveld Akademie?
Ek is by Sonneveld Akademie as hoof met ingang vanaf 1 Oktober 2015 aangestel. Voorheen was ek by Curro Helderwyk Hoërskool betrokke. Om die hoof van Sonneveld Akademie te wees is ’n ongelooflike voorreg en die afgelope drie jaar was verseker die hoogtepunt van my beroepslewe.
• Hoe lyk ’n tipiese dag in jou lewe?
Vergaderings, vergaderings en nog vergaderings. Verder beplan en berei ek voor vir nog vergaderings. Onthou, ’n skoolhoof moet sorg dat ouers, onderwysers, leerders, die beheerliggaam, die departement en sommer almal gelukkig en tevrede is. Dit kan nogal ’n voltydse werk wees! Ek is ’n “hande-vuilmaak” hoof wat graag by die skool se dag-tot-dag aktiwiteite betrokke is. Ons skool is klein en daarom ken ek feitlik elke leerder se naam. Dit is vir my lekker om tussen die leerders te wees en by hulle betrokke te wees, daarom bied ek ook rekeningkunde vir die Graad 11 en 12 leerders aan en geniet ek elke klas terdeë.
• Waar het jou passie vir kinders en skool hou vandaan gekom?
Vanaf mnr (oom) Manie van Rensburg wat vir my rekeningkunde aangebied het toe ek in Graad 12 was aan die Hoërskool Alberton in 1980. Hy was vir my ’n inspirerende onderwyser, al was hy op daardie stadium al 60 jaar oud. Sy liefde vir rekeningkunde en omgee, al was dit daardie tyd met die rottang, het my geïnspireer om B.Com (Rek) te studeer en daarna onderwys. Ek wou aanvanklik ’n geoktrooieerde rekenmeester geword het, maar ek wou graag ook wees soos oom Manie. Daarom doen ek toe ook onderwys. Hy het werklik belanggestel en ’n passie vir rekeningkunde en onderwys gehad. Dit wys net weereens die mag wat ’n onderwyser het om leerders te inspireer en te motiveer. Na wat ek verneem is oom Manie reeds oorlede.
• Sport en kultuur speel ’n baie belangrike rol in elke skool. Dink jy daar word vandag nog genoeg klem gelê op die akademie?
Ja, kinders moet holisties en gebalanseerd opgevoed word. Dit is dikwels die verskoning vir sport en kultuur ten koste van akademie. My ongeverifieerde gevoel is dat slegs ongeveer een persent van sport deelnemers op skool wel later ’n plekkie in die son kry as suksesvolle professionele sportlui. Daarteenoor verseker akademie dat almal wel hulle plekkie in die son kry. By Sonneveld Akademie plaas ons akademie eerste en daarna sport- of kultuur deelname. Dit is vir ons ononderhandelbaar. Ons neem deel aan sport en kultuur omdat dit vir ons lekker is. Die wenmotief is baie lekker maar beslis nie alles nie, tensy dit van toepassing is op akademie. Ongelukkig dryf ouers, leerders en selfs jonger onderwysers dikwels sport en kultuur ten koste van akademie. Dit is en bly ’n groot hartseer en hier moet die skoolhoof maar die ongewilde besluite neem en sy/haar voet neer sit.
• Hoofde van skole se verantwoordelikhede en pligte word nie makliker nie. Hoe hanteer jy dit?
Met groot genade van Bo en met die hulp en ondersteuning van ’n span toegewyde en hardwerkende onderwysers wat passievol is oor hulle roeping. Onthou, God roep elkeen van ons om te kom blom in die tuin waar Hy ons plaas. Hy sal ons toerus. Dit is immers Sy belofte aan ons.
• Waar sien jy jouself oor 10 jaar?
Heerlik afgetree in die bosveld langs ’n kampvuur met ’n glasie pinotage in die hand. Ek en my vrou omring deur die bos se naggeluide. Dit sal darem salig wees. Vir seker gaan ek terugverlang na die dae toe ek ook ’n verskil kon maak, al was dit miskien gering. Hoop ek kan dan oud leerders raakloop vir wie ek ook, soos oom Manie, kon inspireer.
• Dink jy kinders van vandag verskil baie van kinders van 15 jaar gelede?
Nee, nie regtig nie. Vyftien jaar gelede het ons kinders gevra na ’n geborge omgewing waarbinne hulle hul volle potensiaal kon bereik. Hoe is vandag se kinders dan anders?
• Hoe sal die leerders jou beskryf?
Goeie vraag! Miskien kan ek hulle dit vra. Dalk wil ek net ’n goeie plaasvervangende ouer wees vir sewe ure elke dag. Ek wil net ’n verskil maak deur ’n geborge omgewing te skep waarbinne ’n kind homself kan uitleef en sy Skepper leer ken. As een dit kon antwoord, sal dit vir my genoeg wees. Ek sal hulle tog vra.
• Indien jy vandag ’n ander beroep moet kies, wat sal dit wees en waarom?
Weer onderwys. Dit is ’n ongelooflike lewenswyse waar jy deur alle moontlike emosies in een enkele dag gaan. Om in die oë van ’n kind die woorde “ek glo in jou” te sien, gee soveel waarde aan ’n mens se bestaan en hou jou op jou knieë.
• Dink jy sosiale media is ’n goeie ding of ’n euwel?
Sosiale media is vir seker goed. Die probleem is die gebruikers daarvan.
•Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?
Op my knieë. My vrou is dikwels my steunpilaar. Sy kry dit goed reg. Ek weet dat vir elke deur wat toegaan, maak God weer ’n ander deur oop. Wees net rustig, luister en kyk.
• Watter aspek van jou werk geniet jy die meeste?
Om tussen my leerders te wees. Daar waar ek ’n verskil kan maak, al is dit hoe gering.
• Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek is ’n natuurmens. Ek kamp graag saam my vrou en kinders – as hulle beskikbaar is. Die wildtuin en Namibië het my hart gesteel.
• Iets wat mense nie van jou weet nie?
Ek praat graag met myself, veral as die Leeus droog maak op die rugbyveld.
Lees ook: Leerders samel fluks kos in vir die DBV



