Editor's choiceLocal newsNews

In die kollig: Leer vir Nicolette van Brakpan ken

Nicolette van Vuuren van die Model Manifest Modelskool is in die kollig die week.

Nicolette van Vuuren (42), ’n inwoner van Dalpark Proper, is ’n vrou van vele talente. Sy is die eienaar van ’n suksesvolle modelskool. Sy het ook onlangs ’n nuwe spa geopen en werk voltyds by Veritas College. Nicolette is ’n enkellopende ma van een dogter, Jenic van Vuuren (9).

• Jy is al jare betrokke in die modelbedryf. Hoe het jy in die bedryf beland?

Hierdie is my 19de jaar in die modelbedryf. Ek het die eerste tak van my modelskool, Model Manifest, in 1999 in Brakpan geopen. Vandag het ek 24 takke. Ek self het modelwerk op skool gedoen maar meer vir afronding. Na skool het ’n vriendin besluit om verder te gaan studeer en ek het ingespring en gehelp om haar modelskool aan die gang te hou. Dis toe dat ek besef het dat dit my passie is. Iets wat ek elke dag, elke uur en elke sekonde kan doen en dit voorwaar geniet. Om die beste uit elke kind/model te bring is absoluut ’n eer vir my. Om te sien hoe elkeen groei en selfvertroue ontwikkel, is vir my die belangrikste.

• Sommige mense het die persepsie dat modelwerk nie goed is vir enige kind se selfbeeld nie. Wat is jou opinie?

Hierdie persepsie is so onwaar. Wanneer ’n ma of pa vir my sê dat hul nege-jarige kind vir die eerste keer voor mense kon praat, voor mense op ’n loopplank kon loop of in die klas ’n gedig kon opsê en dat hulle so trots op haar/hom is, dan wil ek sommer ook van trots bars.

• Jy het onlangs ’n nuwe spa in Dalpark geopen. Wat het jou geïnspireer om ’n spa te open?

Die spa was nog altyd ’n groot droom van my. My droom is om ’n wonderlike plek te skep waar individue of kleiner groepe hulself kan geniet en heerlik kan ontspan.

• Wat het jou laat besluit op die naam van jou spa?

C’est La Vie beteken “you only live once” en dit is hoe ek oor die lewe voel. Dit wat jy wil doen en wil sê, moet jy vandag doen en sê want jy lewe vandag. Môre is nie verseker nie.

• Wat geniet jy die meeste van die spa en waarom?

Ek geniet die interaksie met die mense die meeste. Soms wil mense oor hul seer praat en dan kan ek luister. My beste vriendin, Chantal Muller, bestuur die spa nou al vir vier maande. Sy is ’n besondere vrou en haar kreatiewe idees en décor het ’n groot inpak gemaak.

• Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek gaan hou vakansie in my vrye tyd. Familie is vir my baie belangrik en met my besige skedule en werksure voel ek ons kan kwaliteittyd op naweke en vakansies saam spandeer. So vrye tyd is vakansie tyd!

• Waar sien jy jouself oor 10 jaar?

Alhoewel ek glo jy moet voluit lewe vir vandag en jou alles gee, het ek ook ’n visie vir die toekoms. Ek glo die spa sal nog ’n groter sukses wees en die model akademie sal hopelik tot 50 takke gegroei het. Dit is lekker om te droom oor die toekoms, maar met geloof en harde werk kan doelwitte waar word.

Nicolette maak seker sy maak gebruik van al haar talente.

• Wat sal jy uitsonder as ’n hoogtepunt in jou lewe?

Ek is baie geseënd want alles wat ek aanpak in my lewe is ’n sukses. My grootste hoogtepunt was toe ek Mrs Supreme Queen in 2016 gewen het, asook toe Model Manifest in 2017 25 takke, nasionaal en internasionaal, geopen het.

• As jy enige ander beroep kon kies, wat sou dit wees en waarom?

Net ’n mamma. Om meer tyd saam my nege-jarige dogtertjie te kan spandeer en om 100 persent altyd daar te kan wees vir haar.

• Jy werk daagliks met kleintjies, tieners en selfs jong volwassenes. Is dit vir jou ’n uitdaging en waarom?

Ja, dit is ’n groot uitdaging. Elke persoon, ongeag hul ouderdom is anders en ’n mens in hul eie reg. Ek glo jy kan nie almal op dieselfde manier hanteer nie, maar jy kan ’n verskil in elkeen se lewe maak, al is dit net met ’n glimlag.

• As jy raad kan gee aan jonger mense wat daarna streef om ook hul eie besigheid te begin, wat sal dit wees en waarom?

Werk hard, wees lojaal en behandel almal soos jy behandel wil word. Moet nooit neerkyk op ander nie. Maak die beste van elke ding in jou lewe, want jy lewe net een keer.

• Wat motiveer jou en waarom?

Sukses motiveer my. Ek glo dat dit wat jy aanpak, met oorgawe en toewyding aangepak moet word en dan sal dit ’n sukses wees.

• Hoe dink jy sal ander mense jou beskryf?

Ek is ’n vriendelike maar reguit persoon. Ek sal nie huiwer om te sê wat ek wil sê nie, maar ek sal dit altyd op ’n mooi nederige manier doen.

• Wat sal jy nog graag wil bereik in jou lewe?

Definitief om een van my modelle te sien as Mej Suid-Afrika. Ons werk hard daaraan en het modelle met soveel potensiaal dat ek weet hierdie droom gaan nog in die toekoms waar word.

• Dink jy sosiale media is ’n voordeel of nadeel?

Definitief ’n voordeel. Veral vir ’n besige persoon soos ek. Met amper 5 000 vriende op my Facebook kan ek sien wat in ander se lewens aangaan, of net ’n positiewe gedagte deel en iemand anders se dag opkikker. Sosiale media is die toekoms vir ons en ons kinders en ek love dit!

Lees ook: Geen keer aan Brakpan skoonheid nie

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button