Ouma vang kleinkind toe ma geboorte op toilet skenk
Chantré-Amoré het haar ma, Natasha Pottas onkant betrap toe sy twee weke te vroeg haar opwagting gemaak het.
‘n Baba wat haar opwagting twee weke te vroeg gemaak het, het onlangs vir benoude oomblikke en ‘n groot geskarrel gesorg.
Natasha Pottas (33) van Sherwood Gardens het op 31 Julie die lewe aan haar tweede kind geskenk, terwyl sy op ‘n toilet in haar sussie, Ashley Schoeman (25), se huis gesit het.
Haar ma, Magda Pottas (51) het gelukkig koelkop gebly en gesorg dat die nodige gedoen word.
Natasha vertel dat sy die oggend van 31 Julie begin pyne kry het maar dat dit, volgens berekening, nog nie tyd was vir die geboorte van haar tweede kind nie.
“Teen 3.45vm was die pyne baie erg en het ek vir my vriend van die afgelope ses jaar en die pa van my kind, Johan van Vollenstee, gesê dat hy my na my sussie se huis moet vat,” het Natasha vertel.
“My ma woon ook daar en my hospitaal sak en identiteitsboekie was by hulle gewees.
“Toe ons by die huis aankom het die pyne meer intens geraak en het ek in die bad gaan klim. “Nadat ek uitgeklim het, het ek by die wasbak gaan staan en gevoel dat iets nie reg is nie.
Lees ook: Swangerskapopvoedingsweek: Voorgeboorteklasse is belangrik
“Ek het op die toilet gaan sit en kon my kind se koppie voel.
“Alles het daarna blitsvinnig gebeur. My ma was net betyds om my baba te vang,” het Natasha vertel.

Magda sê dat daar nie tyd was vir dink nie.
“Ek het maar net instinktief opgetree, alhoewel ek ook maar bang was, veral toe die baba nie dadelik ‘n geluid gemaak of gehuil het nie,” het sy vertel
“Ek wou net daardie kindjie hoor huil.”
Magda het die baba se mondjie met ‘n handdoek skoon gevee en volgens haar was dit wonderlik toe klein Chantré-Amoré Pottas begin huil.
“Ek het nie geweet waar om die naelstring te knip nie en was baie dankbaar toe die ambulans en paramedici opgedaag en oorgeneem het,” het Magda vertel.
Ma en kind is na die hospitaal geneem waar hulle dieselfde dag nog ontslaan is.
‘n Gesonde Chantré-Amoré het by geboorte 2.61kg geweeg en was 45cm lank.
“Alles het so vinnig gebeur en ek is net baie dankbaar dat my ma koelkop gebly het en dat alles goed afgeloop het,” het Natasha vertel.
Sy het ook ‘n seun Nathan Pottas (3), wat baie ingenome met sy nuwe sussie is.
Volg ons:



