Vrou skenk geboorte op sypaadjie, pa vang die baba
’n 37-Jarige vrou van Hoylaan het verlede Donderdag in die vroeë oggendure op die sypaadjie voor haar huis geboorte aan haar seun geskenk.
Wendy Swanepoel (37) het die week aan die Herald vertel dat die geboorte van haar kind nou wel nie volgens plan verloop het nie, maar dat alles op die ou einde tog goed uitgedraai het.
Haar man, JP (38), wat deurentyd aan haar sy was, het hul seun, Arnold George, self gevang net daar waar Wendy op die sypaadjie gesit het.
“Ek het maar net gedoen wat ek moes. Daar was nog nie mediese hulp nie en ek kon ook nie dat my kind in die pad val nie,” het ’n trotse JP gesê.
Wendy vertel dat sy volgens ’n sonar wat sy ondergaan het sowat 37 weke swanger was.
Lees ook: Ouma vang kleinkind toe ma geboorte op toilet skenk
“Ek het dus nie gedink dat ek enige tyd in kraam sou gaan nie.”
Volgens haar het sy verlede Woensdagaand begin krampe kry maar nie veel daarvan gedink nie.
“Ek het omtrent middernag gaan slaap en so 3vm wakker geword en besef dat alles nie pluis is nie.”
Wendy het ’n vriend en die ambulans gebel.
“Ons vriend, Manie Botha, was voor die ambulans by ons huis.
“Toe ek in sy bakkie wou klim kon ek dit nie regkry nie en het ek op die sypaadjie gaan sit. Die volgende oomblik is Arnold gebore, net daar op die sypaadjie,” het sy vertel.
Die ambulans het later opgedaag en Wendy en haar baba is na die Verre Oos-rand Hospitaal geneem.
Die kleintjie het 2.6kg by geboorte geweeg en volgens Wendy is hy stroopsoet.
“Hy was baie bedrywig toe hy nog in my maag was maar is nou ’n baie rustige babatjie wat goed slaap en geen probleme gee nie.”
Die egpaar het ook vier ander kinders, Gideon (3), Eben (8), Ethan (9) en Heili (13).
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



