Editor's noteLocal newsNews

Hierdie is g’n honde nie, dis kinders

Daar word nie verniet na ’n hond as “die mens se beste vriend” verwys nie.

’n Inwoner van die dorp, Elize Steytler, het haar hart behoorlik verloor op die Pekingese honderas en het sommer ’n dosyn van die stertwaaiende woefies, wat vir haar soos kinders in die huis is.

Die 38-jarige vrou en haar eerste Pekingese, Chloë, se paaie het sowat 10 jaar gelede gekruis toe sy haar uit die hande van hondetelers gered het.

Daarna het Elize betrokke geraak by diereredding en ook by die Pekingese Haven, wat daartoe gelei het dat sy nou sommer 12 hondekinders as deel van haar familie het.

Lees: Honde in die huis help nie veel

“Meeste van my hondekinders is net in my sorg geplaas totdat hulle ’n geskikte huis kry, maar ongelukkig het van hulle mediese probleme en die ander is net te veel bederf.

“Dit maak dit dan vir my baie moeilik om van hulle afstand te doen en dan word hulle maar deel van die familie,” vertel Elize.

Die inwoner van Dalview het alles onder beheer wanneer dit by haar diere kom, en het selfs twee “kinderoppassers” wat haar uithelp om na die honde te kyk, wanneer dit nodig sou wees.

Elkeen se verjaarsdag word ook behoorlik gevier en gedurende Kersfees word daar vir elke vier-poot-kind ’n Kersgeskenk uitgedeel.

Dié diereliefhebber het ook geen probleem om elkeen van haar honde uit te ken nie.

Inteendeel, sy ken hulle so goed dat sy dit sommer met toe oë kan doen.

Elize luister net na die blaf van die hond, waarna sy onmiddellik sal weet watter een dit is.

Volgens haar kom die vierpoot-kinders ook goed oor die weg met mekaar, alhoewel die tefies soms bietjie buierig kan wees.

Lees: Arrogante tiener terg honde

“Hulle almal kry ’n oorvloed van liefde en aandag, wat help om goeie gebalanseerde temperamente te verseker,” vertel Elize.

Dié vrou en haar gesin glo jy red ’n lewe deur ’n dier aan te neem en leef by die volgende slagspreuk: “Adopt, don’t shop”.

“Diere wat gered is, is nie beskadigde diere nie, dis net diere wat deur mense te nagekom is.”

Sy voel ook sterk oor sterilisasie.

“Een van die grootste geskenke wat mense vir hul diere kan gee, is om hulle te laat steriliseer.”

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Vir meer plaaslike nuus besoek Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button