Onderwys vloei dik deur Riena se are
Daar is bitter min onderwysers wat na 56 jaar in die onderwys steeds passievol oor die beroep is en nog meer belangriker, steeds elke dag klas gee.
Duisende kinders het vir meer as ’n halwe dekade onder die bekwame hande van Riena de Wet (81) deurgeloop en ’n klompie gelukkiges geniet steeds die voorreg.
Dié vriendelike onderwyser en Brakpanner in murg en been het nie veel bekendstelling nodig nie.
Riena het in 1957 vir die eerste keer voor in ’n klaskamer gestaan toe sy by die destydse Laerskool Harmonie begin skoolhou het.
“Ek kan onthou dat ek na net twee weke bedank het toe ek gedink het dat verpleging ’n beter opsie sou wees,” het Riena vertel.
Sy het egter gou van plan verander en is terug na die skool, waar sy vir drie jaar klas gegee het totdat sy ’n pos aan die President Steyn Junior Laerskool in Alberton aanvaar het.
Na drie jaar by dié skool het sy vir ’n jaar by Laerskool Môrewag skoolgehou voordat ’n baie lang verbintenis met Laerskool Dalview begin het.
Lees: Onderwyser groet na 40 jaar
Riena het vir 33 jaar vir graad een en graad twee Dalwers skoolgehou en het ook na haar “aftrede” by die skool afgelos.
Van ’n rustige, normale aftrede was daar eintlik nooit sprake nie aangesien haar dogter, René Partington (50), ’n kleuterskool, Ons Kuierplekkie, gestig het en in 2005 het Riena permanent by die skool ingeskakel.
“Ja, dit is nou 14 jaar later en ek is steeds hier,” vertel sy met ’n glimlag.
Sy is ook betrokke by die privaat skool wat onlangs ’n toevoeging tot haar dogter se kleuterskool geword het.
Gevra of sy ooit spyt was dat sy vasgebyt het met die onderwys is haar antwoord ’n definitiewe nee.
“Die Here lê vir ons, ons paadjie uit en ek glo nie daar is ’n beroep wat meer satisfaksie offer nie. ’n Mens moet egter ’n passie daarvoor hê,” het Riena gesê.
Volgens haar het die onderwys met die jare beslis verander.
“’n Groot probleem met vandag se kinders is dissipline. Jare gelede was dit kinderspeletjies om ’n klas met 48 kinders te hanteer. Vandag is dit egter ’n heel ander prentjie.”
Lees: VIDEO: Geliefde oud-onderwyser verloor kankerstryd
Die onderwys vloei nie net dik deur Riena se are nie. Haar eggenoot, Colin, met wie sy al 56 jaar getroud is, het vir altesaam 30 jaar skool gehou. Hy was ook in die mediese bedryf.
René, wat ’n gekwalifiseerde dieetkundige is, is net so passievol oor kinders en vandaar die totstandkoming van haar kleuter- en privaat skool.
Riena se ouer dogter, Elbie Piotrowski (55), was verbonde aan die Hoërskool Hugenote en hou nou al vir 25 jaar skool in die VSA.
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



