Editor's choiceLocal newsNews

Seun se verjaarsdag spesiaal danksy mense wat omgee

Robbie se ma, Tanya Ferreira (43), wat haar drie seuns alleen grootmaak, het verduidelik dat dit broekskeur gaan.

 

Toe Robbie Joubert Vrydagoggend op sy 14de verjaarsdag wakker geword het, het hy nie veel gehad om na uit te sien nie.

Hy het ook, in plaas daarvan om skool toe te gaan, besluit om eerder te kyk of hy ’n paar randjies bymekaar kon maak.

Sy dag het egter binne ’n oogwink verander toe ’n besorgde motoris die skraal seun vroegoggend naby Denneweg gesien staan het.

Die motoris het kontak gemaak met adj-off Jan Roos van die Brakpan SAPD, wat op sy beurt gereël het dat die seun opgelaai is.

“Ons het verneem waar die kind woon en hom na sy ma se blyplek by die Sallies Kibbutz geneem,” het Roos vertel.

Vandaar het ’n hartseer storie ontvou van ’n gesin wat bitter swaar kry en dat daar geen vooruitsig was van ’n bederf vir Robbie op sy verjaarsdag nie.

Lees: VIDEO: Gesin platgeslaan na brand hul huis in puin lê

“Nadat ons die agtergrond van sy ma gekry het, asook haar toestemming, is daar ’n besluit geneem om die kind se verjaarsdag ’n onvergeetlike een te maak,” het Roos gesê.

Hulp is op die Brakpan Radio Groep gevra, nie net vir die seun nie, maar ook vir sy gesin, en kort voor lank het hulp en skenkings begin instroom.

Robbie Joubert was veral ingenome met die ballonne wat hy gekry het. ’n Koek met kersies, wat hy later ontvang het, het hom ook breed laat glimlag.

Twee besorgde inwoners, Zander Fritz en sy vrou, Nové, het ’n teruggetrokke Robbie onder hul vlerk ingeneem en gesorg dat hy ’n haarsny en nuwe klere kry. Daarna het hy by die egpaar se huis gaan kuier waar hy lekker gebad het en met die gesin se hond gespeel het.

Later die middag het ’n groep inwoners bymekaar gekom om die goedere wat deur lede van die Brakpan Radio Groep, Secure Tech en ander weldoeners geskenk is, na Robbie se ouerhuis te neem.

Robbie se ma, Tanya Ferreira (43), wat haar drie seuns alleen grootmaak, het verduidelik dat dit broekskeur gaan.

“Ek is nie tevrede daarmee dat Robbie uitgeglip het om ’n geldjie bymekaar te maak nie, want hy moes skool toe gaan, maar ek sal hom vergewe, want dit is sy verjaarsdag,” het Tanya gesê.

Sy was uit die veld geslaan oor die kos, klere en beddegoed wat aan haar oorhandig is.

Lees: Vertoning ten bate van breinbeseerde kind

Daar is ook genoeg kontant ingesamel om die gesin, wat twee kamers by Sallies Kibbutz huur, se huurgeld tot Desember te betaal.

“Dit gaan ons baie help en ek is baie dankbaar,” het Tanya gesê.

Robbie, wat grootoog rondgestaan het, het vertel dat sy dag baie spesiaal was.

Robbie Joubert en sy ma Tanya Ferreira (43).

“Ek hou baie van my nuwe tekkies wat ek self kon kies,” het hy skaam vertel.

Die verjaarsdagkoek met kersies en kleurvolle ballonne wat hy van nog ’n weldoener ontvang was beslis ’n hoogtepunt.

“Ek het nog nooit sulke mooi ballonne gehad nie. Ek gaan dit bêre,” het hy gesê.

“Dit was ook vir my baie lekker om met die vriendelike tannie, by wie se huis ek was, se honde te speel en ek het warm sjokolade gedrink.

“Dit was vir my ‘n lekker verjaardag.”

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button