Foto’s: Vinnige motors maak Shandon se dag
Besoekers en inwoners van die dorp het ook hul harte oopgemaak en het donasies vir Shandon se rolstoel geskenk.
’n 16-jarige tiener van Brakpan-sentraal, wat aan Duchenne-spierdistrofie ly, het Saterdag ’n onvergeetlike verjaarsdag by Cosy Corner beleef, danksy ’n groep vriende en weldoeners.
Shandon Saunders se verjaarsdagviering was terselfdertyd ook ’n geleentheid om broodnodige fondse in te samel om ’n rolstoel, wat aan sy behoeftes sal voldoen, aan te skaf.
Duchenne-spierdistrofie is ’n ongeneeslike siekte wat die spiere vinnig laat wegteer.
Behandeling kan help, maar die toestand is ongeneeslik en lyers het gewoonlik nie ’n hoë lewensverwagting nie.
Shandon het tans net die gebruik van sy regter wysvinger en duim en is permanent in ’n rolstoel.
Die jong seun se ouers, Grant en Liana Saunders, help met sy versorging en moet basies alles vir hom doen.
Lees: Seun se verjaarsdag spesiaal danksy mense wat omgee
Shandon se oom, Thinus van Heerden, Ltkol Eugene Scheepers (bevelvoerder van die Actonville speurtak), Hans Schoeman en Deon Olivier (eienaar van Cosy Corner) het Saterdag die wiel aan die rol gesit om Shandon se 16de verjaarsdag spesiaal te maak.
Soos meeste tiener seuns is Shandon se grootste belangstelling vinnige motors en motorfietse. Inwoners van die dorp het, in ’n verskeidenheid vuurwaens en motorfietse, dit vir Shandon moontlik gemaak om sy droom uit te leef.
Hy was veral in sy noppies toe hy in ’n blink Ford Mustang kon ry.
Die voertuig is deur Richard en Natasha Fick beskikbaar gestel.
“Dit was beslis die hoogtepunt van die dag, wat hy baie geniet het,” het Thinus gesê.
Besoekers en inwoners van die dorp het ook hul harte oopgemaak en het donasies vir Shandon se rolstoel geskenk.
“Ons is dankbaar vir elke bydrae wat gemaak is en ons sal voortgaan om fondse bymekaar te maak totdat hy sy rolstoel het,” het Thinus gesê.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:






















