Na 60 blink jare sprankel dié liefde nog steeds
Om dié spesiale geleentheid te vier is ’n groot opskop, met ongeveer 60 gaste op die gastelys, by ’n onthaalplek in die dorp gehou.
Jare lange inwoners van die dorp, Phillip (80) en Joey (78) Botha, het ’n baie besondere mylpaal in hul lewe bereik toe hulle gister (Donderdag) hul 60ste huweliksherdenking gevier het.
Die egpaar onthou hul eerste ontmoeting baie goed.

Hulle het by Joey se suster, Delina Aucamp, (wat oorlede is) se huis ontmoet, toe Phillip saam met ’n vriend, Albert Strewer, daar gaan kuier het.
Die koeël was deur die kerk en vandaar het die liefde behoorlik begin floreer.
Agtien maande na hul ontmoeting het die egpaar in 1959 ewige trou aan mekaar in die Brakpan landdroshof beloof.
Wat dié dag so spesiaal gemaak het vir dié twee is die feit dat hul liefde vir mekaar onvoorwaardelik gebly het.
“Ons troudag was vir my so spesiaal want ek het geweet Phillip is die een en dis wonderlik dat hy vandag nog steeds die een is vir my,” vertel Joey.
Phillip was in sy jonger jare ’n gekwalifiseerde passer en draaier en het op 60-jarige ouderdom afgetree.
Stilsit was egter nie vir hom nie en kort daarna het hy weer aan die werk gespring om ’n ingenieurswerkswinkel tot op die ouderdom van 72 te bestuur.
Joey was ’n voor winkel assistent by drie verskillende apteke in die dorp en het eers afgetree toe sy 76 jaar oud was.
Sy het eers by die Brenthurst apteek vir ongeveer 15 jaar gewerk en kort daarna by die Jays Apteek begin waar sy ook ongeveer 15 jaar gewerk het.
Joey het afgetree by die L. Jannett apteek na 17 jaar, maar is nog steeds fluks en op die been en gaan help af en toe nog by dié apteek uit.
Lees: Egpaar vier 60ste huweliksherdenking
Die egpaar is geseën met drie kinders, Charmaine Howett (58), Cynthia Deysel (57) en Theuns Botha (53).
Hulle is ook dol oor hul sewe kleinkinders en agt agter-kleinkinders.
Dié egpaar is dit eens dat ’n hoogtepunt van hul huwelik beslis die dag is toe hul eerste kleinkind gebore is.
Joey en Phillip glo ook dat die grootste sukses wat hul behaal het, die wyse is waarop hul kinders opgevoed is.
Benewens sy onvoorwaardelike liefde vir sy vrou hou Phillip hom deesdae besig deur plantjies te kweek en houtwerk te doen terwyl Joey in die kombuis sal bak en brou.
Sy hou haarself ook graag besig met naaldwerk.
Phillip en Joey het deur die jare ook moeilike tye saam beleef maar soos hul beloof het aan mekaar, het hul harde klippe gekou en saam deur die moeilike tye gewerk.
Phillip moes twee heupvervangings ondergaan en het staat gemaak op die versorging en ondersteuning van sy vrou.
Dit was ’n groot uitdaging in hul huwelik, maar soos die toegewyde vrou wat Joey vir Phillip is, het sy by hom bygestaan en hom versorg.
Joey is vandag baie dankbaar vir die man wat Phillip vir haar deur die jare was en vertel dat hy altyd daar is vir haar wanneer sy hom nodig het.
“Phillip het hard gewerk in sy lewe om te wees waar hy vandag is en hy was ’n goeie man vir my.
“Ons het wel minder goeie tye saam gehad maar die goeie tye het altyd die slegte tye oorwin,” vertel Joey.
Phillip waardeer die feit dat Joey deur al die jare by hom gestaan het, al het dinge ook soms moeilik geraak.
Die twee se geheim tot ’n suksesvolle huwelik is om altyd vas te byt en opofferings te maak van beide kante af.
Hulle glo daaraan om as ’n span saam te werk en ’n probleem onmiddellik op te los.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



