Editor's choiceLocal newsNews

VIDEO: Kinders beleef onvergeetlike dag

Die groep is in dié voertuie na die Brakpan Vliegveld vervoer waar almal ’n beurt gekry het om in ’n vliegtuig of helikopter te vlieg.

Die opgewondenheid van ’n groep kinders van twee kinderhuise in die dorp, asook inwoners van die San Michele Tehuis, was Sondag onmoontlik om te bepaal en die dag sal beslis een wees wat hulle nog lank gaan onthou.

Nie net is die groep in allerlei voertuie na die Brakpan Vliegveld vervoer nie, maar het hulle ook die geleentheid gekry om te vlieg.

Vir die meerderheid van die groep was dit die eerste keer dat hulle in ’n vliegtuig was.

Opgewonde kinders hardloop na die vliegtuig waarin hulle gevlieg het.

Die dag is moontlik gemaak deur die eienaar van Benn’s Apteek, Steve Rademeyer en lede van die Just Wheels Motorklub, asook ander vrywilligers.

Rademeyer, wat die dag geïnisieer het, het aan die Herald gesê dat Benn’s Apteek vanjaar sy 80ste bestaansjaar vier en dat dit vir hom belangrik is om ook aan die gemeenskap terug te gee.

Kinders van Jabez en Huis Talita (beide kinderhuise) asook inwoners van San Michele het Sondagoggend grootoog by die Just Wheels Klubhuis bymekaar gekom.

Lede van die klub het opgedaag in hul voertuie wat Mini’s, Cobra’s en veteraanmotors ingesluit het. ’n Vragmotor van Orliflex Transport was ook ’n groot treffer.

Die groep is in dié voertuie na die Brakpan Vliegveld vervoer waar almal ’n beurt gekry het om in ’n vliegtuig of helikopter te vlieg.

’n Elfjarige inwoner van Jabez (die kinders se name mag nie gepubliseer word nie) was onder die eerste groep kinders wat gevlieg het en kon sy opgewondenheid skaars beteuel nadat die vliegtuig geland het.

Hy het opgewonde vertel dat hy nie bang was nie en dat dit baie lekker was.

“Ek het nog nooit gevlieg nie en die lekkerste was toe die vliegtuig opgestyg het.

“Ek het by die venster gesit en het gesien dat die huise en die karre baie klein is,” het hy vertel.

Hy is gou in die rede geval deur ’n sesjarige seun wat vertel het dat hy ook vir die eerste keer gevlieg het en dat hy gesien het hoe ’n ander vliegtuig verby hulle vlieg.

Francois Wessels, ’n lid van die Just Wheels Motorklub was een van die vrywilligers wat Sondagoggend gesorg het dat die kinders en inwoners van die San Michele Tehuis ’n onvergeetlike dag beleef het.

“Ek het gedink ons gaan ‘crash’, maar ek was niks bang nie want dit was baie lekker,” het hy vertel.

Na afloop van die pretritte is die groep op ’n heerlike ontbyt en melkskommels getrakteer.

Lede van Solidariteit Helpende Hand was ook byderhand om te help.

“Die dag was ’n groot sukses ons sal beslis daarna kyk om dit ’n jaarlikse instelling te maak,” het Bart Zaayman van Just Wheels gesê.

Video:

Die klein groen mini (waaroor die Herald al voorheen berig het) was ’n groot treffer. Die twee seuns wat saam met Bazil Marais gery het, het hulself gate uit geniet.
Bart Zaayman, van die Just Wheels Motorklub (links) en Steve Rademeyer, eienaar van Benn’s Apteek.

Meer foto’s:

Lees: Just Wheels kuier by San Michele

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button