Weldoener tot die redding van bejaardes
Dit help ook nie om net hande gevou te sit as jy ’n verskil kan maak nie.
Inwoners van die Tweedy Park Kompleks het verlede Maandag met hul hande in hul hare gesit toe ’n reuse boom omgewaai en twee strate in die kompleks versper het.
Sekere inwoners kon nie toegang tot hul huisies kry of uit die kompleks ry nie.
“Daar moes ook inderhaas ’n paar takke afgesaag word sodat ’n ambulans by ’n persoon wat mediese hulp nodig gehad het kon uitkom,” het een van die inwoners gesê.
Blykbaar het pleidooie, van die meestal bejaarde inwoners, aan die Ekurhuleni Metro op dooie ore geval en het die versperring van twee strate tot groot ongerief en kommer gelei. (Die kompleks is die eiendom van die Ekurhuleni Metro.)
LEES: ACDP and Laerskool Dalview help Tweedy Park frail care residents
Die inwoners het hulle na sosiale media gewend en hulp gevra.
Hul plan het vrugte afgewerp en Vrydag het ’n weldoener opgedaag om die boom op te sny.
Neil Labuschage (40) en sy vrou Anita (44) het tyd op hul hande gehad en Vrydag ’n kettingsaag gaan huur om die boom op te sny.
“Ek het aanvanklik gedink dat ek en my vrou alleen gaan werk, maar vele inwoners het gou opgedaag om te help.
“Dit het ons sowat twee ure geneem om die takke op te sny en uit die pad te kry en dit was aangenaam om te sien hoe die mense, van wie sommige baie oud is, saamgewerk het,” het Neil gesê.

“Ek gaan ook eendag oud word en dalk hulp nodig hê. Dit help ook nie om net hande gevou te sit as jy ’n verskil kan maak nie,” het Neil gesê.
Neil is onlangs afgelê by die maatskappy waar hy vir twaalf jaar gewerk het en beoog om nou enige nutsman werk te doen.
Die inwoners van Tweedy Park het groot lof vir Neil en Anita gehad en het sommer ’n braai gereël om mooi vir hulle dankie te sê.
“Hierdie twee mense het geld uit hul sak gehaal en hul tyd opgeoffer om ons te help. Dit sien ’n mens nie meer baie vandag nie,” het een van die inwoners gesê.
Ons wil hoor van ander soos Neil
Is jy iemand wat ook liewer self inspring en ’n plan maak wanneer iets jou dwars in die krop steek?
Of is jy die persoon wat nie omgee om die papiere op jou sypaadjie op te tel of die lang gras oorkant die pad in toom te hou nie.
Die Herald sal graag wil hoor van inwoners wat probeer om, hoe gering ook al, ’n positiewe bydrae tot die welstand van die dorp en sy inwoners te maak.
Die doel hiervan is om erkenning te gee aan inwoners se pogings en sodoende ook ander aan te moedig om dieselfde te doen.
Ons sien uit na inligting en veral “voor” en “na” foto’s.
Stuur besonderhede en foto’s per e-pos na brakpanherald@caxton.co.za

LEES: Moue word opgerol om bejaardes te help
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



