Jong sangeres bekoor met haar stem
Twee van die agt liedjies op die CD het sy ook self geskryf.
’n Jong sangeres van die dorp hoop dat haar drome later vanjaar waar kan word wanneer sy moontlik Suid-Afrika kan gaan verteenwoordig by die Wêreld Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste.
Juliana du Plessis (13) van Dalpark 11 sing al van jongs af en het op ses-jarige ouderdom reeds in Laerskool Elspark se skoolkoor gesing.
Sy was tot graad sewe lid van die skoolkoor en het verskeie toekennings vir haar koor deelname ontvang.
Die talentvolle sanger het op 10-jarige ouderdom haar solo loopbaan van stapel gestuur en het gereeld aan haar skool se weergawes van The Voice en Idols deelgeneem waar sy vir drie jaar agtereenvolgend in die top drie geëindig het.
Gedurende 2017 het sy ingeskryf vir die Groter Ekurhuleni Eisteddfod waar sy in verskeie kategorieë deelgeneem en weggestap het met agt goue medaljes. Vier van die medaljes is vir uitstaande sang toegeken.
Met dié uitsonderlike prestasie het sy outomaties gekwalifiseer om aan die Gauteng Eisteddfod deel te neem en het sy die trofee vir die beste sanger in die junior kategorie ontvang.
“Al wat ek regtig wil doen is sing. Dit is vir my lekker om te hoor hoe my stem ontwikkel en ek wil nog beter word,” het die jong sangeres, wat nou ’n leerder aan die Sonneveld Akademie is, gesê.
Haar liefde vir sang en musiek het veroorsaak dat sy verlede jaar gedurende Desember haar eerste CD, My Begin, die lig laat sien het.
Twee van die agt liedjies op die CD het sy ook self geskryf.
Dit was ook tyd om bietjie hoër te mik en as deel van die Bravo Performance Academy, en onder die waaksame oog van haar afrigter, Laura Lee Schutte, het sy ingeskryf vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste.
Juliana het die provinsiale oudisie in Februarie in Kempton Park geslaag met al ses haar liedjies.
Die volgende stap is deelname aan die nasionale rondte van die kompetisie, wat vandeesmaand in Rustenburg plaasvind.
Indien Juliana dié rondte slaag, sal sy deel word van die span wat Suid-Afrika in Julie tydens die Wêreld Kampioenskappe in Los Angeles sal gaan verteenwoordig.
“Ek gaan my absolute beste gee, want so ’n geleentheid sal soveel vir my beteken,” het die kind met die engelestem gesê.
Juliana het ook een van haar CD’s geskenk om gewen te word. Indien jy die CD wil wen, stuur ’n e-pos na brakpanherald@caxton.co.za
Lees: Jong sanger bekoor met sy stem
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



