Editor's choiceLocal newsNews

In die kollig

‘n Mens kan nie verwag om goeie resultate te kry as jy nie hard werk daarvoor nie.

Dalpark inwoner Alicia le Roux (12), ‘n leerder aan die Laerskool Baanbreker, het vanjaar gekwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse Laerskole Atletiek Kampioenskappe. Haar ouers is Belinda (39) en Herman (41) en haar jonger broer is Ruan (7).

In watter item het jy tydens die Gauteng Laerskole Atletiekkampioenskappe gekwalifiseer vir die SA’s?

Ek het in die 100m en die 200m deelgeneem, maar gekwalifiseer in die 200m met ‘n tyd van 26.38 sekondes.

Wanneer het jy aan atletiek begin deelneem?

Ek hardloop al vandat ek kan onthou. Ek was in Trippe Trappe Trone Kleuterskool en het daar reeds aan byeenkomste deelgeneem.

Ontvang jy professionele afrigting of oefen jy net by die skool?

Ek oefen drie tot vier keer per week by die Boksburg Stadion, (nie tans nie as gevolg van die inperking) onder die bekwame afrigting van Lindie du Plessis. ‘n Mens kan nie verwag om goeie resultate te kry as jy nie hard werk daarvoor nie. Ons fokus op my wegspring, spoed, fiksheid en uithouvermoë.

Was jy senuweeagtig tydens jou deelname aan die Gauteng Kampioenskappe?

Ek het baie harder as ooit tevore gewerk dus was my selfvertroue goed. Ek hardloop ook nooit sonder om die woorde “Ps 91” op my arm te skryf nie. Ek is gelowig en glo dat die Here altyd by my is en vir my talente gegee het wat ek moet gebruik. Dit was ‘n groot uitdaging vir my en ek het dit nie ligtelik opgeneem nie.

Atletiek is ‘n individuele sport. Neem jy ook aan ander sport deel en hoe ervaar jy spansport?

Ek geniet dit regtig baie om netbal te speel en speel ook vir my skool. Dit is vir my lekker om in ‘n span te funksioneer. Ek glo dat ek goed oor die weg kom met my spanmaats.

Wanneer jy nie besig is met sport nie wat doen jy?

Dit is vir my altyd lekker om in die skool se revue te wees. Tog is ek eintlik ‘n buite-mens. Ek sal veel eerder buite fietsry of swem of met my broer speel voordat ek in die huis sit.

Wat doen jy om besig te bly tydens die inperking?

Ek hou myself besig met skoolwerk wat ons ontvang het, takies in die huis en ‘n oefenprogram wat ek van my afrigter ontvang het. Daar is gelukkig genoeg spasie in ons erf om die nodige oefening in te kry. Verder drink ek baie water en eet gesond. Ek geniet dit ook om saam met my Yorkie, Daisy, buite te hardloop en flieks te kyk.

• Die Suid-Afrikaanse Laerskole Atletiekkampioenskappe is uitgestel as gevolg van Covid-19 en dit is nie bekend wanneer dit sal plaasvind nie.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:hyperlink

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button