Editor's noteLocal newsNews

Vrou verloor R15 000 toe sy sigarette wil koop

Die publiek moet op hul hoede wees indien hul sigarette wil koop.

Met die verbod op die koop en verkoop van sigarette en tabakprodukte wat steeds in plek is, word rokers al hoe meer desperaat om sigarette te bekom.

Ongelukkig is daar ook booswigte daarbuite wat heeltemal bewus is van die situasie en dit ook lelik uitbuit.

‘n 56-Jarige inwoner van die dorp het Dinsdag R15 000 verloor toe sy en haar vriendin deur ‘n skelm, wat sigarette aan hulle sou verskaf, oorhandig het.

Die vrou vertel dat sy Dinsdag by haar 60-jarige vriendin se huis in Taftlaan was.

‘n Man met ‘n donker gelaat en baie goud in sy tande het by die huis aangekom en gesê dat hy gratis maskers weggee.

“Ons het aan die gesels geraak en hy het toe aangedui dat hy sigarette vir ‘n baie billike prys kon kry.

“Ek rook nie eens self nie maar kry my vriende en familie, wat wel rook, baie jammer en ek het dadelik bestellings begin neem en geld van almal bymekaar gemaak.

“Die man het gesê dat hy slegs ‘n groot bestelling sal neem; dus het ek so R15 000 ontvang van mense wat sigarette wou hê en my vriendin het ‘n verdere R600 bygevoeg,” het die vrou vertel.

“Die man het later terug gekeer na die huis en ons is na binne om die geld te tel.

“Op dié stadium het daar ook twee vroue aangekom wat met die ander mense van die huis gepraat het.

“As ek nou terug dink het die man gepoog om my te verwar, want hy het die geld in bruin koeverte geplaas en dan weer uitgehaal en dan weer getel.

“Hy het ook die hele tyd gepraat. Op ‘n stadium het hy die koeverte net so op die tafel gelaat en gesê dat hy die sigarette gaan haal.

“Hy het in die pad afgeloop, na ‘n wit voertuig wat ‘n hele ent van die huis geparkeer was. Die twee vroue het ook intussen verdwyn,” het die vrou verduidelik.

“Ek het nog gaan kyk en gewonder waarom hy dan sovêr sal loop met sigarette, wat hy nie eintlik mag hê nie.

“Dit is toe dat ek terug is in die huis en sien dat daar niks anders as stukke koerantpapier in die koeverte was nie.

“Ek was uit die veld geslaan en natuurlik R15 000 armer.

“Daar is mense wat dink dat ek met hulle geld vort is en ek moes noodgedwonge ‘n lening aangaan om almal se geld terug te betaal.

“Ek besef terdeë dat ek verkeerd opgetree het, maar ek voel tog dat die publiek gewaarsku moet word teen die man.

“Ek het intussen verneem dat hy dit met ander mense ook probeer het,” het die vrou gesê.

Lt-kol Peet van der Schyff het gesê dat die vrou inderdaad die wet oortree het.

“Die koop of verkoop van sigarette en tabakprodukte is steeds verbode en persone wat hulself daaraan skuldig maak kan krimineel vervolg word,” het van der Schyff gesê.

“Daar is persone daarbuite wat die situasie uitbyt en die publiek moet op hul hoede wees,” het van der Schyff gewaarsku.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button