Kospakkies bring hoop in ‘n moeilike tyd
Die grendeltyd, die onsekerheid oor die virus en die toenemende druk op die ekonomie het 'n vergrootglas op die bestaande uitdagings.
Daar was Donderdag groot dankbaarheid op die gesigte van meeste van die bejaarde inwoners van die Tweedy Park Woonstel-kompleks toe ‘n groep vrywilligers kospakkies en vars vrugte aan elke inwoner gaan oorhandig het.
“Die grendeltyd, die onsekerheid oor die virus en die toenemende druk op die ekonomie het ‘n vergrootglas op die bestaande uitdagings, maar ook op die positiewe eienskappe van ons gemeenskap kom plaas,” het ds Hennie Pienaar, leraar van die NG Kerk Dalpark, Kaléo Gemeente gesê.
Dié gemeente is een van die groot rolspelers wat die verspreiding van die kospakkies moontlik gemaak het.
“Veral kwesbaar in hierdie tyd is die senior inwoners van die dorp.
“Nie net is hulle méér vatbaar vir die virus nie, maar die isolasie het sommige van hulle emosioneel laat knak.
“Verder kan baie van hulle kinders nie meer ‘n finansiële bydrae tot hulle versorging maak nie,” het Pienaar gesê.
Lees: Elke bietjie help om kos by hongeres te kry
Die reaksie wat die weldoeners Donderdag begroet het, was ‘n stortvloed van dankbaarheid.
‘n 66-Jarige inwoner, wat gevra het dat haar naam nie gepubliseer word nie, het gesê dat sy bittermin kos in haar blyplekkie oorgehad het en dat sy nie geweet het wat sy sou doen totdat sy weer ‘n geldjie kon kry nie.
Dié bejaarde het gou deur die kospakkie wat sy ontvang het, gesnuffel en was verheug oor die inhoud daarvan.
Toe daar vir haar nog ‘n vars brood en blok botter in die hand gestop is, was sy oorstelp.
“Wanneer ek ‘n ‘pond’ botter koop, moet dit my gewoonlik vir so twee maande hou.
“Nou gee hierdie mense sommer net so vir my een,” het sy gesê met ‘n breë glimlag.
Volgens Pienaar dien die mense se dankbaarheid as motivering vir die weldoeners om dag na dag aan te meld om met die kosverspreiding onder die dorp se mense te help.

Pienaar het verduidelik dat daar sedert die grendeltyd ingestel is, ‘n kospakkie aan 1 466 gesinne gelewer en dat ‘n totaal van 5 447 mense daardeur gehelp is. (Hierdie getalle sou intussen gestyg het).
“Die totale waarde raak aan die R400 000, wat reeds aan ons gemeenskap gelewer is.
“Dit is ‘n voorreg om op hierdie wyse ‘n verskil te kan maak en ons is uit ons hart dankbaar vir elkeen se welwillendheid en ondersteuning.
“Die kerke van ons dorp, kultuurorganisasies, politieke organisasies, die besigheidsektor asook die breë publiek het hande gevat om die hongersnood van ons dorp te verlig.
“Ongekende welwillendheid het die afgelope weke gesorg dat daar ‘n standhoudende stroom van kospakkies en middele voorsien is wat kon help om die nood in ons dorp te probeer verlig,” het Pienaar gesê.
Die werklikheid dat werkloosheid en armoede ‘n geweldige groot probleem in ons gemeenskap is, is iets wat nie nou eers ontstaan het nie.
Dit is ‘n reus wat lank reeds ons gemeenskap bedreig.
“Die felheid daarvan is egter deur ons huidige situasie (die Covid-19 pandemie) op die spits gedryf.
“Mense wat voorheen ‘n sukkelbestaan gevoer het kon darem nog by ‘n sopkombuis ‘n stukkie brood kry of deur die bymekaarmaak van rommel probeer om die pot aan die kook te hou.
“Selfs die wat vra vir kos by verkeersligte, wat bekende gesig in die dorp is, het op ‘n manier verligting gebring.
“Die die laaste paar weke het alles egter verander en het die kos begin opraak.
“Die mense het begin om hoop en moed te verloor.
“Die naakte waarheid van intense armoede en gepaardgaande sosio-maatskaplike probleme is grotesk opgeblaas tot ‘n monster wat dreig om ons gemeenskap te verwoes.
“Maar soos wat armoede deur die Covid-19-pandemie opgeblaas is tot ‘n groteske monster, het die Dawid met sy slingervel vanuit die situasie opgestaan en van krag tot krag gegaan.
“Soos wat die vergrootglas geplaas is op ons gemeenskap se probleme, so is die vergrootglas ook geplaas op ons positiewe eienskappe.
“Ons is ‘n gemeenskap met deernis en omgee vir mekaar. Ons kan saamstaan vanuit verskillende fronte en saamwerk met die wil om ‘n verskil te maak,” het Pienaar gesê.
Hy het bygevoeg dat die nagevolge van Covid-19 nog lank teenwoordig gaan wees.
“Dit kan nie by kospakkies bly nie, uiteindelik sal ons begin soek na daadwerklike oplossings om die reus van armoede in ons gemeenskap te oorwin.”
Meer foto’s:
Kospakkies bring verligting vir bejaardes
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:![]()
![]()
![]()
![]()
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



