Vinnige optrede red baba wat in swembad val
Alles kon so anders uitgedraai het. Ons is dankbaar teenoor elke persoon wat gehelp het om ons baba te red.
’n Gesin van Kitzingerlaan het groot lof vir die paramedici van die Saints Emergency Services wat Vrydag blitsvinnig gereageer het toe ’n een-jarige kind in ’n swembad geval het.
Elize Bezuidenhout (45) het vertel van die nagmerrie ondervinding toe haar kleinkind, Shiané Schoeman (1), Vrydag by haar huis in die swembad beland en byna verdrink het.
“My dogter, Shamonei Schoeman (20), het Vrydagoggend saam met die kleintjie by my kom kuier. My ander dogter, Kyla (15), en my seun, Dylan (24), was ook in die huis.
“Ons het in die sitkamer gesit en gesels en Shiané was die hele tyd in en uit om happies van haar yoghurt te neem, toe ons angstige gille van ons huishulp hoor,” het Elize vertel.
“Shiané het in die swembad gedryf en Dylan, wat in sy kamer was, het daarheen gehardloop, ingespring en haar uitgehaal.
“Ek het dadelik mond-tot-mond asemhaling begin doen en Dylan het Saints gekontak.
“Die hoof paramedikus, Johan le Roux, het terwyl ek besig was vir Dylan telefonies verduidelik wat ons moes doen totdat hulp sou opdaag.
“Ons kon op ’n stadium ’n pols voel en kort daarna was ons erf letterlik vol noodvoertuie.”

Shiané is op die toneel gestabiliseer en deeglik ondersoek.
“Ons beskik nie oor ’n mediesefonds vir haar nie en die staatshospitale is almal, as gevolg van Covid-19, vol.
“Fondse om haar in ’n privaat hospitaal te laat opneem het ons ook nie,” het Elize verduidelik.
Johan het deur die loop van die dag elke twee tot drie ure kom kyk of alles nog goed gaan met Shiané.
“Sy laaste besoek was om middernag. Hy was die hele naweek met ons in kontak, net om seker te maak dat alles nog goed gaan.
“Ons is baie dankbaar teenoor ons hemelse Vader vir die wonderwerk wat Hy vir ons laat gebeur het, maar ook vir die span nooddiens werkers wat gehelp het.
“Hul bystand en absolute toewyding het ook veroorsaak dat Dylan nou besluit het om homself as ’n paramedikus te bekwaam.
“Alles kon so anders uitgedraai het. Ons is dankbaar teenoor elke persoon wat gehelp het om ons baba te red,” het Elize gesê
Shamonei het Maandag aan die Herald gesê dat dit baie goed gaan met haar kind.
“Ons het almal baie groot geskrik en die nodige voorsorgmaatreëls is reeds in plek,” het sy bygevoeg.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:![]()
![]()
![]()
![]()
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



