Local newsNews

Elkeen sal sy kant moet bring

Ons het ons trots in ons sak gesteek en buk gereeld om ander mense se gemors op te tel.

Hou ons dorp skoon skryf per e-pos:

Die afgelope paar weke in die Herald het ek gereeld gelees van die gemeenskap wat self moue oprol en ’n verskil probeer maak.

Ek onthou van die mense wat by Tweedy Park se huise gaan skoonmaak het en verlede week was daar ’n brief waarin iemand bedank word wat gras by die woonstelle gesny het (Vrywilligers sny lang gras).

In dieselfde uitgawe was daar ook ’n berig oor die motorfietsklub wat ’n parkie skoongemaak het (Motorfietsklub spring in en ruk park reg).

Ek en my man woon al vir 26 jaar in die dorp en ons is baie bekommerd oor die agteruitgang van die dorp.
Daarom is ons baie dankbaar om te sien dat daar tog mense is wat nog omgee en nie huiwer om moue om te rol nie.

Ons is albei in ons laat 60’s, maar nog redelik fiks en ons stap gereeld.

Ons maak ’n punt daarvan om ’n plastieksak saam met ons te neem en sodoende tel ons rommel in ons omgewing (Dalview) op.

Al die gebuk kom somtyds met ’n pyn hier en daar, maar dit is immers goeie oefening.

Dit het duidelik geword dat elkeen sy of haar kant sal moet bring om te sorg dat die dorp nie onder rommel en lang gras verdwyn nie.

Ons het ons trots in ons sak gesteek en buk gereeld om ander mense se gemors op te tel.
Dit is eintlik baie bevredigend.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button