Local newsNews

Theron broers laat diep spore

Ons kinders is die ruimte gegee om self te ontwikkel en te presteer. Daar is nooit druk op hulle geplaas nie.

’n Besondere hoofstuk is verlede jaar afgesluit by Hoërskool Die Anker toe die jongste van drie broers aan die einde van ’n suksesvolle skooljaar aangewys is as die Anker van die Jaar.

Christiaan Theron (19), die hoofseun vir 2020, het gevolg in die voetspore van sy ouer broers, Reynardt (22) en Armand (24), wat beide ook aan die einde van hul matriekjaar as die Anker van die Jaar aangewys was. Beide was ook hoofseuns.

LEES OOK:

 Hoërskool Die Anker se hoofleiers is gereed vir 2020

Die toekenning is die hoogste erkenning wat ’n leerder van Die Anker kan ontvang.

Die drie broers het tydens hulle skooljare in Dalpark Proper gebly. Hul ouers is Frans Theron (52) en Madelize Grové (50).

Al drie is groot sportmanne, maar het altyd ’n goeie balans tussen akademie, kultuur en sport gehandhaaf, alhoewel sport maar altyd die botoon gevoer het.

Deelname aan die skool se revue was ook ’n gunsteling en al drie het elke jaar daaraan deelgeneem.

“Armand was baie sterk in akademie en was elke kwartaal op die top 10 van sy graad, waarvan hy ’n hele paar kere eerste gestaan het,” het ’n trotse Frans vertel.

Hy was egter ook ’n kranige sportman wat uitgeblink het in atletiek, rugby en skaak. In sy graad 11 en 12 jare het hy vir die eerste rugbyspan van Die Anker uitgedraf en was ook in matriek die kaptein van die eerstespan. Hy was in 2014 hoofseun.

Frans het vertel dat Reynardt ook goed presteer het op akademiese vlak, maar dat die klem meer op sport was, met die fokus op atletiek, rugby en sewes rugby.

“Wat atletiek aanbetref was Reynardt ’n uitstekende 800m, 1 500m en spiesgooi atleet. In sy matriekjaar verteenwoordig hy Gauteng by die SA Atletiekkampioenskappe vir spiesgooi,” het Frans vertel.

Reynardt het ook die eerste rugbyspan in sy graad 11 en 12 jare verteenwoordig, waarvan hy albei jare as kaptein van die span uitgedraf het.

Hy is in 2015 vir die Valke Sewes-span gekies en in 2016 gekies om die Valke te verteenwoordig tydens Cravenweek.

Later daardie jaar ontvang Reynardt ook ’n beurs om die volgende jaar vir die Cheetah se o-19-span te speel.

Reynardt was in 2016 die hoofseun van Hoërskool Die Anker.

Die jongste van die broers, Christiaan, wat verlede jaar gematrikuleer het, het sterk op sy akademie gefokus, maar die aanloklikheid van sport was vir hom groot.

Hy het deelgeneem aan atletiek, rugby, sewes rugby, tennis en skaak.

Hy het vir drie agtereenvolgende jare Die Anker se eerste rugbyspan verteenwoordig.

In 2019 was hy deel van die eerste Anker rugbyspan wat die Valke-liga kon wen.

In dieselfde jaar is hy ook gekies om die Valke te verteenwoordig by Rhino-week en word daarna gekies vir die SA Rhino o-19-span wat getoer het na Ierland.

Sy prestasies in sewes rugby en tennis is ’n ellelank.

“Die seuns is baie talentvol en ons glo dat hul talente verseker van goedheid en guns van die Here afkomstig is met net ’n klein bietjie geluk van ’n goeie mengelmoes van gene,” het Frans gesê.

“Ons kinders is die ruimte gegee om self te ontwikkel en te presteer. Daar is nooit druk op hulle geplaas nie.”

Armand is tans besig om sy BSc-graad in chemie en inligtingstegnologie klaar te maak en sal homself in die programmeringswêreld wil vestig.

Reynardt het tydens 2020 sy BAgric-graad voltooi en is tans besig met sy BAgric honneurs in besproeiing. Hy het pas begin werk as ’n boer op ’n plaas naby Mokgopong.

LEES OOK:

Rinél Day stel nuwe musiekvideo bekend

Christiaan studeer BComm Informatieka aan die NWU (Vaal) en sy doelwit is om die NWU Vaal Rugby en sewes rugby spanne te haal.

“Die drie broers is een groot seën. Hulle is werklik lief vir mekaar en hulle is mekaar se helde.

“Hulle vertrou mekaar ten volle, deel dieselfde humorsin en ondersteun mekaar geweldig.

“Hulle is ons alles en ons trots,” het Frans gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button