Local newsNews

Met dié vrou soek jy nie moeilikheid nie

In Brakpan kry dié woord ’n heeltemal ander betekenis wanneer jy met Lina Stoltz (41) kennis maak.

Thelma Koorts
thelma@caxton.co.za

Die woord uitsmyter word gewoonlik vereenselwig met ’n gespierde man wat in ’n kuierplek rond beweeg en skoorsoekers by die deur uit te boender.

In Brakpan kry dié woord ’n heeltemal ander betekenis wanneer jy met Lina Stoltz (41) kennis maak.

Alhoewel sy verkies dat mense nie na haar verwys as ’n uitsmyter of “bouncer” nie, is dit tog die werk wat sy al die afgelope 12 jaar by ’n kuierplek in die dorp doen.

Lina, wat ’n paar nommer 12 skoene volstaan, is die voltydse vredemaker by Thirsty Okes (voorheen die Masonic Hotel) in Voortrekkerweg.

Met die eerste oogopslag lyk die vrou, wat 1.94m lank is en ’n deuropening volstaan, intimiderend, maar wanneer sy eers begin gesels is dit ’n heel ander storie.

LEES OOK:

Ongeskikte vrou trap kassiere uit

Lina het vertel dat sy eers werksaam was by ’n plek waar hawelose vroue gehuisves is en dat haar huidige werkplek ook daardie tyd haar kuierplek was.

“So het dit gebeur dat ek die werk gekry het. Ek hou regtig nie daarvan om ’n uitsmyter of bouncer genoem te word nie, want dit is nie hoe ek is nie. Ek dink dit is maar net my lyf wat my moed gee,” het sy gelag.

Tog is dit haar plig om besoekers wat moeilikheid maak of nie by die reëls hou nie kort te vat.

“Ek probeer altyd eers om dinge rustig te benader. Mense leer maar so met tyd en gewoonlik help ’n praatjie veel meer as geweld. Ek is in elk geval nie ’n voorstaander van geweld nie. Geweld sal altyd die laaste opsie wees.”

Lina het wel toegegee dat dit al vir haar nodig was om skoorsoekers aan die broek en kraag by die deur uit te help, maar dit gebeur net in uiterste gevalle.
“Ek het eintlik maar ’n sagte hart en ek huil ook maklik,” het sy vertel.

“Baie van ons kliënte is gereelde besoekers en ons verstaan mekaar. Mense kyk letterlik en figuurlik op na my en wedersydse respek is belangrik.”

Sy het vertel dat sy die meeste sukkel met kinders wat nog nie 18 jaar oud is nie en met ander persone se ID boekies toegang tot die plek probeer kry.

“Hulle probeer allerhande plannetjies om by my verby te kom, maar ek duld dit nie.”

Sy help ook somtyds agter die kroeg toonbank uit en haar werksure is ongewoon, maar dit pla haar nie, aangesien sy op die perseel woon.

Haar twee kinders, Johan en Nicolene Greyvenstein, woon in die Kaap.

Have a story?

Contact the newsroom by emailing: Thelma Koorts  (editor) brakpanherald@caxton.co.za or Stacy Slatter (news editor) stacys@caxton.co.za

 

Remember to visit the Brakpan Herald on the following social media platforms:

 Follow us:

    

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button