Gesin gestrand na sleutels verdwyn in sand
Daar was ook mense wat met metaalverklikkers opgedaag het om na ons sleutel te soek.
‘n Gesin van Brenthurst se onlangse beplande langnaweek het beslis nie uitgedraai soos hulle gehoop het, toe hul bakkie se sleutel op die strand verlore geraak het nie.
Was dit ook nie vir die goedhartigheid van Dave Savides, die hoofredakteur van die plaaslike koerant die Zululand Observer nie, sou die gesin met erge probleme gesit het.
Gerhard van Coppenhagen (39), sy vrou Chantel Dempsey (43) hul twee seuns Gerhard jnr en Lukas (beide 15) het uitgesien daarna om die Paasnaweek bietjie weg te breek en tyd saam met familie in Meerensee te gaan spandeer.
Die gesin was reg vir ‘n paar dae van sonskyn en uitspan op die strand toe dinge lelik skeef geloop het op die tweede dag van hul wegbreek.
“Ons was die Saterdag van die Paasnaweek op Alkantstrand in Richardsbaai toe ons bakkie se sleutel verlore geraak het,” het Chantel vertel.
LEES OOK:
Ongeluk verander gesin se lewe onherroeplik
“Dit was ‘n enorme probleem aangesien ons, ons selfone en beursies in die bakkie toegesluit het.
“Ons kon dus nie die bakkie alleen laat nie, uit vrees dat daar by die voertuig ingebreek kon word,” het Chantel verduidelik.
“Ons moes noodgedwonge maar by die bakkie bly maar kon gelukkig die agter gedeelte oopkry. Ons het intussen gereël dat ‘n spaarsleutel na ons gestuur word per koerier maar dit het vier dae geneem.”
Intussen het Savides, wat gereeld die dolfynbesigtigingplatform by die Alkantstand besoek, die gesin teëgekom en te hore gekom van hul penarie.
Hy het onmiddellik gereël dat ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy, SWAT, asook Corrie Pretorius van ’n patrollie groep en die SAPD bewus gemaak word van die gesin.
“Ons het verkies om maar by die bakkie te `kamp’ aangesien ons besorg was oor ons besittings wat toegesluit is,” het Chantel vertel.
“Die sekuriteitsmaatskappy asook die polisie het gereeld deur die nag by ons aangedoen om seker te maak dat alles nog reg is en dat ons veilig is.
“Na vier dae, wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het ons sleutel opgedaag en kon ons maar die pad aandurf huis toe.
“Ons is baie ingenome met die hulp wat ons van Dave Savides ontvang het.
“Daar was ook mense wat met metaalverklikkers opgedaag het om na ons sleutel te soek.
“Die was nou wel nie hoe ons dinge beplan het nie maar dit was beslis ‘n naweek wat ons nie gou sal vergeet nie,” het Chantel gesê.
Have a story?
Contact the newsroom by emailing: Thelma Koorts (editor) brakpanherald@caxton.co.za or Stacy Slatter (news editor) stacys@caxton.co.za
Remember to visit the Brakpan Herald on the following social media platforms:
Follow us:




