Local newsNews

Sluipslapers is ’n steen des aanstoots

“Ek is te bang om verby hulle te loop aangesien daar beslis tekens van dwelmmisbruik is."

Hawelose mense wat snags en selfs bedags in die dorp slaap- en lêplek soek, is ’n algemene gesig wat tot groot frustrasie van sommige inwoners lei.

Een so inwoner is Bianca Huisamen (30) van Brakpan-sentraal, wat met haar hande in haar hare sit oor die sluipslapers wat hul slaapplek voor ’n kerkgebou in Kingswaylaan gemaak het.

“Hulle het voor die kerk ingetrek en dis nou waar hulle bly. Soms is daar tot 20 van hulle wat daar slaap en dan lê hulle tot 10vm daar,” het Bianca verduidelik.

“Daar is geen badkamer geriewe nie, wat veroorsaak dat hulle hul besigheid sommer so voor die kerk se deur doen.

“Die reuk wat rondhang in die omgewing is ondraaglik en op ’n warm dag kan ek nie eers my agterdeur oopmaak nie, want dit stink net te erg.

“Waarom doen iemand nie iets aan die saak nie?”

Huisamen het gesê sy het al alles probeer.

“Die polisie ry vele keer ’n dag daar verby, maar doen niks nie. Die munisipaliteit sê dis nie ’n staatsgebou nie so hulle gaan niks aan die saak doen nie.

LEES: Hawelose maak hom tuis op graf 

“Ek het selfs al die pastoor van die kerk gebel en daar is aan my verduidelik dat dit nie hulle goed is nie en daarom kan hulle dit nie verwyder nie.

“Ek is te bang om verby hulle te loop aangesien daar beslis tekens van dwelmmisbruik is.

“Ek kan nie met my 10-jarige seun daar verby stap nie, want ek wil hom nie daaraan blootstel nie.

“Ons was onlangs egter verplig om daar verby te stap, toe my kind een van die mense opmerk met ’n naald wat steeds in sy arm was.

“My seun het my gevra waarom die naald in sy arm was en ek het maar gesê dat die man vitamiene gebruik, maar ek glo nie my kind het vir die storie geval nie.

“Uit die aard van die saak voel ons ook nie veilig nie, veral snags is dit moeilik om rustig te slaap,” het sy gesê.
PD Motor Cycles op die hoek van Prince George- en Hamiltonlaan is op die nippertjie om hul deure na 45 jaar te sluit.

’n Groot aantal mense slaap snags oorkant die besigheid en bedags lyk die area soos ’n varkhok.

Piet van Niekerk, van PD Motor Cycles (76), raak warm onder die kraag oor die situasie.

“Die hawelose mense skrik al my kliënte af.

“Eerstens lyk dit so sleg om my winkel dat niemand hier wil stop nie en tweedens moet ek my winkel ekstra beveilig.

“Dit is werklik besig om my besigheid te breek,” het van Niekerk vertel.

“Meeste van die leeglêers gebruik dwelms oop en bloot.

“Hulle gebruik die muur as hulle badkamer geriewe en asof dit nie erg genoeg is nie, trek hulle voor my vensters aan.

“Die reuk is ondraagbaar en op ’n warm dag kan ek nie my neus by die deur uitsteek nie.

“Ek gee uit desperaatheid gereeld vir die mense skoonmaakmiddels om die sypaadjies skoon te was, maar somtyds is hulle so bedwelmd dat hulle nie eens dit kan doen nie.

“Wat vir my egter baie ontstellend is, is die feit dat daar ’n jong meisie is wat nou daar bly.

“Ek kan so goed onthou hoe sy en haar kêrel altyd hier by ons winkel ingeloer het.

“Hoe kan die regering toelaat dat hulle mense so moet lewe?”

Have a story?

Contact the newsroom by emailing: Thelma Koorts  (editor) brakpanherald@caxton.co.za or Stacy Slatter (news editor) stacys@caxton.co.za

Remember to visit the Brakpan Herald on the following social media platforms:

 

 Follow us:

    

 
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button