Oosrand Kunstefees kies wenners
Die jongste deelnemer was Amé Strydom (5) wat die toekenning vir die beste graad RR deelnemer ontvang het.
Die Oosrand Kunstefees, wat vanjaar deur middel van digitale inskrywings plaasgevind het, is onlangs afgehandel.
Wenners is in afdelings vir sang, dans, drama, redenaars en instrumentaal aangewys.
Meer as 800 video inskrywings is ontvang, waarna dit deur kundige beoordelaars onder hande geneem is.
’n Geleentheid waartydens die finaliste voor die beoordelaars moes optree, het onlangs plaasgevind waarna die wenners aangewys is.
Deelnemers het ook gesorg dat punte aan hul onderskeie skole toegeken word en die gesogte toekenning van Algehele Oosrander Hoërskool is aan Hoërskool Stoffberg gemaak.
Lees ook: Talente in oorvloed vir dié leerder
Ander deelnemers wat met toekennings weggestap het was:
• Desré Phillips (eie komposisie). Sy het ook saam met ’n inwoner van Brakpan, Megan Terblanche, die toekenning vir die beste hoërskool duet gewen. (Megan is in Hoërskool Oosterlig maar woon in Brakpan). Desré is ook aangewys as die graad wenner vir graad 11. Sy het ook in die sang afdeling vir hoërskole algeheel vierde geëindig.
• Die jongste deelnemer was Amé Strydom (5) wat die toekenning vir die beste graad RR deelnemer ontvang het asook vir die oulikste deelnemer. Sy is woonagtig in Brakpan en is in Baanbreker Kleuterskool.
• Mianke van Niekerk (Laerskool Dalview) en Chanré Strydom (woon in Brakpan en is in Laerskool Baanbreker) is gesamentlik as algehele redenaars wenners aangewys. Hulle het ook die hoërskool deelnemers uitgestof.
Mianke is ook aangewys as beste graad vier drama en redenaar graadwenner en was ook tweede in die afdeling graad vier tot sewe drama. In die drama afdeling algeheel het sy ’n derde plek en ’n gesamentlike eerste plek (graad vier tot sewe) redenaars met Chanré gedeel.
• Chanré is as die beste graad wenner vir graad vier aangewys. Sy was ook in die drama afdeling die wenner van graad vier tot sewe en gesamentlik eerste saam Mianke vir redenaars. Sy het ook in die sang afdeling deelgeneem.
• Hanna Macintosh, ’n tuisonderrig leerder van Brakpan, het die hoërskool afdeling gewen en deel die titel vir algehele danswenner met Leané Nortje van Laerskool Helderkruin.
Die Oosrand Kunstefees het ook ’n spesiale afdeling waar leerders met ’n gestremdheid kan deelneem.
• Annette Cloete (graad agt) is gesigsgestrem van geboorte af en het algehele tweede plek ontvang in hierdie afdeling.
Die beoordelaars vir die drama en redenaars was aktrise Juanita de Villiers (Jana van Getroud met Rugby) en haar man, André Velts (film regisseur).
Vir die sang en instrumentale afdeling was dit Lee Scott.
Vir die sang en dans afdeling was dit Izak Davel.
Dawid Louw (Simon van Getroud met Rugby) was die aanbieder tydens die finaal.
Lees ook: Ankers gee nie hul kultuurgees prys nie







