Inwoners met harde musiek gebombardeer
Die gedreun en gedoef-doef begin vroeg in die oggend en hou aan tot laat.

Moeg vir onbedagsaamheid skryf per e-pos:
Ek skryf hierdie brief omdat ek verwonderd staan oor die onbedagsaamheid van sommige mense in ons dorp.
In Cardiganstraat, Dalview (in die blok wat lê tussen Invernesslaan en Paul Krugerstraat), is daar ’n persoon wat ons elke dag met sy harde musiek bombardeer.
Die gedreun en gedoef-doef begin vroeg in die oggend en hou aan tot laat. Sommige dae tot 11 ure aaneen. Ons bly ’n straat daarvandaan en ons hoor die rumoer.
Ek wonder of die persoon besef dat die gedreun, wat by die inwoners in sy omgewing uitkom, baie steurend is, veral vir mense wat van die huis af werk en moet probeer konsentreer.
Ek probeer niemand se plesier ontneem nie, maar wanneer dit ander mense negatief beïnvloed, raak dit ’n probleem.
As die persoon net die bas op sy klanktoestel afstel, sal dit ook al ’n groot verskil maak. Asseblief mense, neem ander in ag.



