Local newsNews

Gereeld op sy pos by die begraafplaas

Sedert inbrekers die administratiewe gebou gedurende Desember geplunder het, is daar nie meer daagliks personeel by die begraafplaas nie.

Wanneer jy op ’n Sondag vir Pieter van der Merwe (71), ’n inwoner van Brenthurst, wil opspoor, hoef jy nie verder as die Brakpan Begraafplaas te gaan soek nie.

Vir etlike jare is hy elke Sondag by die begraafplaas om toe te sien dat die mense, wie hul geliefdes besoek, veilig is.

Hy noem dit gemeenskapsdiens en glo vas daaraan dat elke persoon tyd moet afstaan om die gemeenskap op een of ander manier te dien.

“Dink mooi daaraan,” het hy gesê.

“Indien elke persoon sy of haar deel bring, hoe gering ook al, sal die dorp mos ’n baie beter plek wees. Ek doen dit bloot uit die liefde wat ek vir die gemeenskap het, maar ook omdat ek soveel van Jesus ontvang.

“Ek wil nie erkenning hê vir dit wat ek doen nie. Dit is ook my manier om vir Jesus dankie te sê vir die seëninge wat ek ontvang.”

Volgens hom is sekuriteit by die begraafplaas ’n groot probleem. Sedert inbrekers die administratiewe gebou gedurende Desember geplunder het, is daar nie meer daagliks personeel by die begraafplaas nie.

Die gebou is na die inbraak verder geplunder en die personeel werk vanaf die Parke-afdeling.

“Sondae is maar die dag wanneer meeste mense hul geliefdes se grafte besoek en daarom probeer ek om so gereeld as moontlik en vir so lank as moontlik op ’n Sondag op my pos te wees.


Naamsverandering is belaglik


“Op dae soos Moeders- en Vadersdag, asook Kersdag, raak dit ook baie besig. Die krane by die begraafplaas is gesteel, so ek neem gewoonlik so 40 liter water saam vir wanneer mense hul hande wil was of water vir blomme benodig.

“Wanneer iemand navrae oor ’n graf het of nie ’n geliefde se graf kan opspoor nie maak ek ook werk daarvan om die nodige inligting by hulle uit te kry.”

Pieter het vertel dat hy ’n goeie verhouding met sekuriteitsgroepe in die dorp en ander organisasies, soos AfriForum, het.

“Wanneer daar ’n verdagte voertuig of persone in die omgewing is, kan ek gou hulp ontbied. Dit is wel ’n opoffering om elke Sondag by die begraafplaas deur te bring, maar ek weet dit word deur baie mense waardeer en dit maak dit die moeite werd,” het hy gesê.


Know the facts about prostate cancer and get checked

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button