Twané van Niekerk (16) woon saam haar jonger suster, Zetske (13), en haar ouers, Peet (42) en Suzette (42), in Minnebron. Sy is onlangs gekies om ’n rol te vertolk in ’n Suid-Afrikaanse kortfilm.
Vir watter kortfilm het jy oudisie en waaroor gaan dit?
ABS Produksies het ’n drama-gedrewe projek (Speeltoneel) van stapel gestuur vir jong akteurs om ’n geleentheid te kry om in ’n kortfilm te verskyn. Meer as 3 000 video’s is ontvang, 80 akteurs is gekies vir ’n lewendige oudisie en daarna is 46 akteurs gekies om ’n vier-maande kursus te voltooi voordat die film geskiet word.
Watter rol speel jy in die film?
Die film en karakter verdeling is nog nie geskryf nie, die vier-maande kursus moet eers voltooi word. Ons werk wel saam met bekende name in ons vermaaklikheidsbedryf soos Desiré Gardner, Izak Davel, Viljé Maritz en Albert Maritz.
Waar gaan die film geskiet word?
Dit is nog nie bekend gemaak nie, al wat ons weet is dat ons sal begin skiet vanaf Desember tot Januarie.
Hoe het jy gehoor van die oudisie?
Ek het dit op Facebook raak gesien.
Het jy van kleintyd af al van toneelspel gehou?
Verseker, ek is vanaf ’n jong ouderdom al ’n “entertainer”.
Wanneer het jy besluit dat jy ’n akteur wil word?
Vandat ek kan onthou het ek al gediggies begin opsê. Ons kan seker maar sê dis nog altyd deel van my.
Waarvan hou jy die meeste van toneelspel?
Die feit dat ek kan voorgee dat ek iemand anders is. Soms laat dit ’n mens baie vry voel.
Het jy enige opleiding in toneelspel? Wat behels die kursus van vier maande wat jy nou moet bywoon?
Ek het tot nou toe nog geen opleiding ontvang nie, dit was altyd nog net natuurlik vir my gewees. Die kursus wat ons doen behels ’n groot verskeidenheid van temas en dra alles by tot die dag wat ons skiet. ’n Paar voorbeelde van wat ons al geleer het sluit in: die waarde van woorde, hoe om te ontspan voor ’n toneel, hoe om met jou mede-akteurs te werk en improvisasie. Elke week leer ons iets nuuts.
As iemand van jou lewe ’n fliek sou maak, watter akteur sou jou rol speel?
Cindy Swanepoel (dr Annelize Roux van Binnelanders). Sy is my grootste inspirasie.
Wat het eerste deur jou kop gegaan toe jy uitgevind het jy is gekies vir die film?
Op daardie stadium gaan so baie dinge deur jou kop, jy besef eers heelwat later wat om jou aangaan. Ek dink die dag toe ek hoor Viljé Maritz is my mentor het ek eers besef dis nou deel van die realiteit.
Wat is jou grootste droom wat jy graag wil bereik?
Ek sal graag in ’n film wil speel saam met Cindy Swanepoel.
Wat is jou gunsteling melkskommelgeur?
Enige sjokolade melkskommel.
As jy enige dier kon wees, watse dier sou jy wou wees?
’n Kameelperd, hulle staan uit bo die res.



