Kamp help kinders wie deur Covid geaffekteer is
Kampe vir tieners wat worstel met ander tipe emosionele pyn en verslawing is ook iets wat sy sal oorweeg in die toekoms.
Die pandemie het talle gesinne van die dorp in rou gedompel, en dit is veral die kinders wat sukkel om die stukke op te tel na die afsterwe van ’n ouer of voog.
Een persoon wie al te goed bewus is van die hartseer, pyn en magteloosheid waarmee sommige jong inwoners van die dorp elke dag saamleef, is Janene de Beer, ’n voltydse jeugwerker by NG Kerk Dalpark, Kaléo Gemeente.
Dié 34-jarige jeugwerker is ook berader by Hoërskool Stoffberg en Hoërskool Die Anker, waar sy weekliks, onder andere, met leerders werk wie ouers of voogde aan die dood afgestaan het.
Sy het Brakpan onlangs haar tuiste gemaak en het gou besef dat Covid-19 menige gesinne in die dorp uitmekaar geruk het.
Janene verkies om nie in te veel besonderhede te gaan oor die aantal leerders wie in die afgelope paar maande ouers of voogde verloor het nie, maar sy het gesê dit kan beslis nie op een hand getel word nie.
“Covid-19 het ’n groot impak gehad, maar daar is ook kinders in die dorp wat met ander probleme soos dwelmmisbruik, swangerskap, depressie en armoede worstel,” het Janene gesê.
Benewens gereelde bymekaarkomsessies wat deur middel van die skole moontlik gemaak word, het sy dit ook goed gedink om ’n kamp aan te bied vir die kinders wie se lewens deur hierdie trauma geaffekteer is.
Die kamp, wat kamp Mosaïek geheet het, is onlangs deur 12 tieners bygewoon. Weens die sukses daarvan beplan Janene reeds die volgende een.
“Ek het navorsing gedoen en kon nie juis vasstel dat daar iemand anders in die land is wat sulke kampe, wat kinders leiding gee oor die rouproses, aanbied nie,” het Janene verduidelik.
“In Amerika is daar baie van die soort kampe, wat ‘grief camps’ genoem word.”
Sy glo dat tieners wat deur hierdie trauma rondom die dood baat vind by so ’n kamp waar hul kan weg kom van hul omstandighede en net kan fokus op hulself.
ALSO READ: Simplify your life with online grocery shopping
Kampe vir tieners wat worstel met ander tipe emosionele pyn en verslawing is ook iets wat sy sal oorweeg in die toekoms.
“Ek besef dat die nood aan emosionele hulpverlening groot is in ons gemeenskap. Toegang tot tienerberaders is beperk en daarom sal ek graag wil sien dat daar ’n permanente jeugsentrum in die dorp op die been gebring kan word.
“Soos Jesus sê: die oes is groot, maar die arbeiders is min. Dit moet ’n veilige plek wees vir jongmense. Waar die jeug kan aanklop om hulp en professionele leiding te kan ontvang,” het sy verduidelik.
Janene het vertel dat die las van die jeug, wie sy help, soms swaar op haar skouers lê, maar dat sy krag put uit ’n ongelooflike ondersteuningsraamwerk.
“Ek draai altyd na God vir raad en leiding, maar ek het ook vriende, familie, prof Wentzel Coetzer van die NWU en sy vrou Sonet, asook die kerk wat my bystaan met hierdie enorme taak om ons jeug by te staan,” het Janene vertel.
Daar sal slegs plek wees vir 12 tieners by die volgende kamp (die datum is nog nie vasgestel nie).
Janene het ook onlangs ’n ondersteuningsgroep vir swanger tieners op die been gebring.
Persone wat belangstel om meer inligting te bekom kan vir Janene ’n e-pos stuur na janene@dalpark-kaleo.org.za




