Megan Fraser is die hoofmeisie van Hoërskool Die Anker vir 2022. Haar ouers is Christa en Andrew en sy het ’n broer, Xander (15). Die gesin woon in Petersfield, Springs.
Om die hoofmeisie van so groot skool te wees bring groot verantwoordelikhede. Is jy reg vir die uitdagings?
Ek is! Eintlik, meer as reg. Ek sien uit vir elke uitdaging, leerervaring en elke oomblik wat voorlê in die volgende jaar. Ek is opgewonde en kan nie meer wag vir wat 2022 vir my en my span inhou nie
Waarna sien jy die meeste uit?
Ek sien uit om elke nuwe gesig by ons te verwelkom met die grootste liefde, asook om te weet dat ek ’n voorbeeld kan stel deur ander te kan lei en my Christelike waardes uit te leef.
Wat behels jou pligte as hoofmeisie van jou skool?
Ek moet my skool se naam te alle tye hoog hou en na die beste van my vermoë optree. Ek moet ’n span kan lei en ook ander help waar nodig.
Wat is jou sterkste leierseienskap?
Ek het deursettingsvermoë en ek is hardwerkend. Ek hou daarvan om ’n taak te voltooi.
Het jy ’n rolmodel en waarom dié persoon?
Ek het meer as net een. Ek is bevoorreg om drie spesiale vroue as my rolmodelle te kan hê. Elkeen van hulle speel so ’n belangrike rol in my lewe en al is hulle so verskillend van mekaar, is daar elke dag iets nuuts wat ek by hulle kan leer. Ek sou nie wees waar ek vandag is as dit nie was vir hulle oneindige raad, liefde en ondersteuning was nie.
Wat is jou siening oor eksamens? Dink jy ’n toets of praktiese ervaring baat jou meer?
Ek baat meer by ’n toets. Ek hou daarvan om te sit en te leer en myself oor en oor dieselfde werk te vra. Ek leer maar soos ’n papegaai. Eksamen skryf het sy voor- en nadele, maar op die einde van die dag kan ons nie daarsonder nie en het ons dit nodig vir ons toekoms.
Watter vak is jou gunsteling en waarom?
Lewenswetenskappe. Ek is mal oor wat ons leer en ek het ook by ver die heel beste onderwyseres wat met haar hele hart klas gee. Elke periode is so opwindend en jy leer elke dag ’n nuwe feit.
Kan jy sonder jou selfoon klaarkom?
Wanneer ek besig bly, ja. Maar indien daar niks is vir my is om te doen nie, is my eerste instink om my foon te gryp en te kyk wat op sosiale media aangaan.
Spandeer die jongmense van vandag te veel tyd op hul fone?
Ja, ja en weereens ja! Ons is nie meer kind nie, want niemand speel meer buite of loop in die strate rond nie. Almal is 24/7 besig met iets op die foon.
As jy vir ’n dag die hoof van jou skool kon wees, wat sou jy doen?
Ek sou in daardie groot, swart stoel gaan sit en ’n heerlike koffie geniet, opgevolg deur ’n dag vol pret en plesier, want dit is mos wat die kinders so nou en dan wil hê.
Het jy al besluit wat jy na matriek wil doen?
Ek wil gaan studeer in Stellenbosch, maar ek is nog nie seker in watter rigting nie.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek kuier graag saam met mense na aan my hart, gaan stap of speel hokkie. ’n Bosveldvuur is altyd die beste terapie, so wanneer ek om ’n vuurtjie kan sit, is ek meer as gelukkig.
Wat is jou gunsteling kos?
As ek moet kies, sekerlik sushi of pizza.
ALSO READ:
16-year-old girl fatally stabbed allegedly by her boyfriend
ALSO READ:
R50 million ransom paid for return of kidnapped Moti brothers – report



