Local newsNews

Inbrekers dreig om te verkrag, huis af te brand

“Dit was baie traumaties en ons is baie dankbaar dat ons niks oorgekom het nie.”

“Ons gaan die vrouens verkrag en dan gaan ons almal aan die brand steek en ons gaan die huis afbrand.”

Dit is die angswekkende dreigement wat ses inwoners van ’n huis in Brakpan-sentraal Saterdag in die vroeë oggendure moes aanhoor toe hulle deur vier huisrowers aangehou is.

Die volwasse inwoners se nagmerrie het ongeveer 03:45 begin toe vier gewapende mans die diefwering voor ’n venster opgebuig en toegang tot die huis in Kitzingerlaan bekom het. Die booswigte het oor ’n muur gespring.

Een van die inwoners, Frieda Hurst (48), het vertel dat almal nog aan die slaap was en dat die vier mans eerste na haar jongste seun, Marco (21), se kamer gegaan het.

“Die mans het vir hom gevra hoeveel mense nog in die huis was en hy is daarna na my en man, George Rautenbach (57), se kamer geneem.

“Toe ons wakker skrik was die vier mans voor ons bed. My man het nog regop gespring, maar ons is beveel om ‘te slaap’ en is daar komberse oor ons gegooi,” het Frieda verduidelik.

“Die inbrekers het ’n rukkie in ons kamer rond gesnuffel waarna hulle ons na ’n ander kamer, waar my oudste seun, Stefan (26), en nog ’n persoon aan die slaap was, geneem het. Dit is hier waar een van die mans vir ons gevra het waar die ‘magogo’ was.”

Die eienaar van die huis, Tanya Willemse (53), was steeds aan die slaap in haar eie kamer.

Sy is uit haar bed geruk en ook na die kamer geneem waar die ander vyf inwoners was. Hulle is almal met komberse toegegooi.


LEES OOK: Firefighters go the extra mile for dog in distress


“Drie van die mans het toe deur die huis beweeg terwyl een, wat met ’n handwapen gewapen was, by ons gebly het.”

Volgens Frieda was die man baie aggressief en het hy gedreig om die vroue te verkrag.

“Hy het ook gesê dat hy ons aan die brand gaan steek en die huis sal afbrand. Een van die ander het egter gesê dat ons nie bekommerd moet wees nie en dat hulle net daar is om goed te vat.”

Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, het dit stil geraak in die huis en het George dit gewaag om te kyk wat aangaan. Die inbrekers het op die vlug geslaan met onder andere ’n televisie, juwele, tekkies, vyf selfone, kontant en sigarette.

“Ons almal se fone is gesteel, so ons het gaan hulp soek by die mense oorkant die pad. Die ondervinding was iets wat ek nie weer wil beleef nie. Dit was baie traumaties en ons is baie dankbaar dat ons niks oorgekom het nie,” het Frieda gesê.

Die Brakpan SAPD ondersoek die voorval.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button