Fourie Jordaan is die hoofseun van Hoërskool Stoffberg vir 2022. Hy is die jongste van drie kinders. Sy ouers is Riaan en Rika en hul gesin woon al jare lank in Dalview.
Jy is die hoofseun van 2022. Wat is die eerste gedagte wat deur jou kop gegaan het toe jou naam uitgelees is?
Ek dink eerlikwaar die oomblik was so groot dat my brein vir ’n splitsekonde gevries het. Woorde kan nie die gevoel van daardie oomblik beskryf nie. Al waaraan ek wel kon dink was: “Dankie Jesus!”
Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel en hoekom?
Die wêreld bestaan uit leiers. Sonder iemand wat voorstap heers daar chaos. Skole het leiers nodig om voor te loop en om werklik leiding te neem. Leiers is soos ’n ruggraat, as dit swak is, ly die hele liggaam daaronder. As dit sterk is bied dit die liggaam ’n kans om optimaal te funksioneer en presteer.
Hoe gaan jy die jaar aanpak?
Van die begin af het ek gesê mens maak die beste van elke situasie. Daar gaan natuurlik goeie en slegte oomblikke wees, die belangrikste is dat mens uit beide leer. Ek gaan die jaar aanpak soos dit kom en elke dag instap saam met die Here.
Het jy al besluit wat jy na matriek wil doen?
Die wêreld het die prentjie geskep dat mens na skool dadelik moet studeer en voor 30 getroud moet wees met kinders en ’n suksesvolle lewe lei. Ek is heeltemal antagonisties teenoor hierdie prentjie van lewe. Ek wil graag eers gaan sien wat die wêreld alles het om te bied en ’n breër spektrum kry van wat eintlik daar buite aangaan, anderkant die vier mure van ’n skool.
Daarna sal ek gaan studeer wanneer ek seker is watter rigting ek wil inslaan. Ek stel in soveel dinge belang dat ek net eers duidelikheid wil kry oor wat ek wil doen in die lewe. Ek werk hard en sal op die ou end ’n sukses maak in wat ek besluit om te doen.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
Ek geniet dit om tyd saam met die Here te spandeer, dus kyk ek baie preke en lees enige tyd Christelike boeke. Ek is graag saam met familie en vriende of spandeer tyd in die natuur.
Wat is jou stokperdjies?
My stokperdjies is om te lees, skryf en na musiek te luister. Die see en hemelruim bewonder my, daarom kan ek vir ure lank programme hieroor kyk.
Wat is jou sterkste leierseienskap?
Ek sal sê om te luister na ander, na hul probleme, vreugdes en alles tussen in.
Kan jy sonder jou selfoon klaar kom?
Definitief. Ek sal vir dae lank kan klaarkom sonder my selfoon. Ons leef in ’n tyd waar kinders gebore word met ’n selfoon in die hand en het geen sosiale lewe meer nie. Mense se “social skills” verminder en kinders kan nie eers meer ’n gesprek voer nie. Alhoewel vandag se wêreld aanlyn is, verkies ek lewe sonder ’n selfoon.
Wat maak jou op die plek kwaad?
Om te hoor as iemand Godlasterlik praat. Ek gee nie om wie die person is nie, ek sal sy/haar fout uitwys.



