’n 23-jarige inwoner van Dalpark het al meer toekennigs agter haar naam as meeste mense in ’n leeftyd ontvang.
Ankia Pepler het in 2013 haar hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Die Anker begin en in 2017 matrikuleer met vier onderskeidings.
Sy was in haar matriekjaar ook as Die Anker van die Jaar aangewys. Die jaar daarna het sy met haar BA Tale kursus aan die Universiteit van Pretoria begin en in 2020 haar graad voltooi.
Oor die jare op universiteit het sy talle toekennings ingepalm.
LEES OOK: Tiener kan na 13 jaar normaal lewe
In 2019 het sy die Nederlandse Ambassade-boekprys vir die beste student in die afdeling Nederlandse Taal- en Letterkunde en die Lina Spies-wisseltrofee vir die tweedejaarstudent wat die beste selfstandige opstel oor ’n onderwerp uit die Afrikaanse poësie geskryf het, ontvang.
In haar derde jaar ontvang sy die AP Grové-wisseltrofee vir die derdejaarstudent wat die beste selfstandige opstel in die afdeling Afrikaanse letterkunde geskryf het.
In 2021 tydens haar honneurs ontvang sy die volgende: die ATKV-prys vir die honneursstudent wat uitmuntend presteer het in die Afrikaanse Taalkunde, die Human en Rousseau-prys vir die honneursstudent wat die beste selfstandige opstel oor ’n literêre onderwerp geskryf het, die Tafelberg Uitgewers-prys vir die beste honneursstudent in die Departement Afrikaans en die Suid-Afrikaanse Akademie-beurs vir ’n buitengewoon verdienstelike nagraadse student.
LEES OOK: Ma sien hoe haar kind (9) raakgery word
Sy het dus haar honneurs in 2021 voltooi en gaan vir die volgende twee jaar doenig wees met haar meestersgraad, waar sy in leksikografie, leksikologie, leksikale semantiek, etomologie, lorpuslinguistiek en rekenaar linguistiek gaan spesialiseer.
Sy is in ’n tydelike pos by Hoërskool Die Anker waar sy Afrikaans vir die graad agt en nege leerders aanbied.
“Dit is vir my lekker om as personeellid deel te wees van Die Anker en om saam met diegene wat groot voetspore in my lewe getrap het ’n verskil in ons gemeenskap te maak,” het Ankia gesê.
Sy beoog om in die toekoms by tersiêre onderrig aan te bly as dosent en om veral aktief te wees in die ontwikkeling en behoud van Afrikaans as taal.



