Franco Booysen (35) is sedert Februarie die eerste spankaptein by Brakpan Rugby Klub. Hy woon in Brenthurst saam met sy vrou Janine Booysen (30) en hulle vier-jarige dogter Linicke Booysen.
• Van wanneer af speel jy vir Brakpan Rugby Klub?
Ek was van kind af deel van die klub en groot geword op die velde terwyl my pa, Frans Booysen, rugby geoefen het. Hy het vir Brakpan gespeel van 1978 tot omtrent 1996. Ek het aangesluit by Brakpan Rugby Klub se eerste span in 2012 na my aftrede van professionele rugby by die Valke.
• Wat is vir jou uitdagend van jou rol as kaptein?
As die kaptein van ‘n trotse rugby klub soos Brakpan sal daar altyd uitdagings wees, maar ek dink die grootste uitdaging is om die geskiedenis van die wonderlike klub hoog te hou.
Brakpan as ‘n klub is hierdie jaar 101 jaar oud en as ‘n mens dink aan al die legendariese spelers wat voor ons hierdie truie gedra het en deel gevorm het van die suksesvolle tradiese, is die uitdaging om hierdie laaste eeu te vuur met ‘n goeie seisoen vol harde Brakpan rugby.
• Dink jy jy is ‘n goeie kaptein en waarom?
‘n Mens moet seker my mede spelers vra of ek is. Maar my liefde vir die klub en die spel is diep gewortel en ek glo as ‘n leier moet jy ‘n voorbeeld stel. ‘n Mens daag op en speel jou hart uit vir die wapen op jou bors en die broer langs jou.
Somige mense meet ‘n kaptein aan die sukses van ‘n span en ander meet ‘n kaptein aan sy vermoë om ‘n klomp manne saam te trek en in ‘n doelgerigte plan te lei. Hopelik sal ek onthou word as deel van Brakpan rugby se trots.
• Watter posisie speel jy en wat is vir jou lekker van die posisie?
Ek speel tans buite senter. Ek hou van senter want dit gee ‘n mens die geleentheid om spasie te skep vir jou vleuels en soms self af te rond.
• Watter beroep beoefen jy wanneer jy nie rugby speel nie?
Ek is ‘n prosedure bestuurder vir Gary Rom Man Signature Barber. Ons doen verskeie hare -en baarddienste sowel as gesigs, hare en kopvelbehandeling.
• Wat sal ‘n mens altyd in jou rugby sak vind?
My toks natuurlik. Ek het nie regtig iets wat ek saam dra vir inspirasie nie.
• Wat geniet jy om in jou vrye tyd te doen?
Tyd saam my dogtertjie en my vrou is vir my baie belangrik, en so nou en dan ‘n lekker rondte gholf.
• Watter advies sou jy vir jong rugby spelers gee?
Harde werk en toewyding is 10 keer meer belangrik as talent, en ons almal speel rugby want dit is lekker, so geniet dit. Vat jou oefeninge ernstig en geniet die wedstryde.
• Wat maak Brakpan Rugby Klub uitstaan bo die res?
Wel persoonlik dink ek dit is die mooiste klub stadion in Suid Africa. En enige speler wat al lank betrokke is weet dat Brakpan rugby klub nie net ‘n klub is nie, dis ‘n familie.
Ons wonderlike bestuur speel die grootste rol in die sukses, trots en liefde by hierdie klub. En maak nie saak die uitkoms van ‘n wedstryd of seisoen nie, Brakpan Rugby sal trots staan in Suid Afrikaanse klubrugby.
• Beskryf jouself in vyf woorde.
Lojaal, eerlik, hardwerkend, passievol, betroubaar



