Sanger ontvang erkenning vir sy werk
Hy het die toekenning vir die beste manlike album ontvang.
Die kunstenaar Danie van der Westhuizen het onlangs erkenning vir sy nuutste album ontvang.
Die 42-jarige musikant van Brakpan het op 12 April die Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaar Toekenningsaand by die AfriForum Teater in Pretoria bygewoon.
Sonder enige verwagting het hy met die toekenning vir die beste manlike album weggestap.
“Dit is die laaste toekenning wat ek verwag het,” het Danie gesê.
Hy het die erkenning vir sy nuutste album genaamd Ons ontvang.
Die album is reeds in Februarie vrygestel en Danie beweer dat hy ‘n jaar lank met die album doenig was voor die vrystelling.
Hy het tans twee albums op sy kerfstok en skryf meeste van sy liedjies self. Sy musiekvervaardiger Ernie Bates het saam met hom aan een van sy enkelsnitte geskryf.
Danie het aan die Herald vertel dat hy vir jare lank ‘n platejoggie was en musiek vir ander kunstenaars gemaak het tot hy sy kans gevat het. Hy maak vir ses jaar al sy eie musiek.
LEES OOK: Adopt a pet
Sy raad aan jong opkomende kunstenaars is om nooit te vergeet waar hulle talent van vandaan kom nie.
“As jy musiek maak, is jy ‘n kunstenaar ongeag hoe beroemd jy is,” het hy gesê.
Danie beskryf homself as dankbaar en doelgerig. Hy is tans besig met twee nuwe enkelsnitte.
“Die erkenning vir my album gee my hoop en inspirasie om nuwe musiek te skryf.”
LEES OOK:
Bokkie Park livestock temporarily relocated due to wet weather conditions



