“Sy plek is leeg en die seer is iets wat nie beskryf kan word nie.”
Dit is die woorde van Welma Wolmarans wie se pa op 23 April deur ‘n voertuig in Voortrekkerweg getref is.
Haar pa, Ben Minnie (66), is op die toneel dood verklaar nadat ‘n motor hom glo getref het toe hy die pad wou oorsteek.
Ben was op pad om sy dogter Angelique en haar man Jacques by ‘n winkel te ontmoet toe die ongeluk plaasgevind het.
LEES OOK: Is taking your property off the grid a good investment?
Angelique en Jacques was gou op die toneel maar Ben was reeds dood verklaar. Volgens Welma was haar pa altyd vriendelik en sou hy enigiemand help waar hy kon.
“Daar was geen lui haar op sy kop nie en hy het nog nooit iemand minderwaardig geag nie,” het Welma gesê.
Ben het slegs ‘n paar blokke van die ongelukstoneel af gewoon. Hy laat sy vrou Adri (53) en vier kinders Welma (33), Angelique (30), Erika (41) en Kobus (37) agter.
Nog ‘n seun, Christo is lank gelede in ‘n motorongeluk oorlede.
LEES OOK: AA does not agree with minister on various transport issues
“Ons gaan hom baie mis maar sal hom altyd onthou vir wie hy was, ons pa.”
Die Minnie gesin beweer dat die hoeveelheid ongelukke wat in Voortrekkerweg plaasvind besig is om hand uit te ruk.
Ben se begrafnis het 29 April by die Adullam Biker Kerk in Brakpan-sentraal plaasgevind.
‘n 21-Jarige persoon is aangekeer en aangekla van strafbare manslag sowel as roekelose en nalatige bestuur.



