GPF voorsitter tree uit
Apie Peens gaan dit rustiger vat nadat hy onlangs 'n beroertaanval gehad het.
Abraham Peens oftewel Apie, tree vanjaar uit as voorsitter van die uitvoerende komitee van die Brakpan Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
Die 74-jarige inwoner van Brakpan-sentraal het besluit om dinge rustiger te vat, nadat hy onlangs ’n ligte beroerte gehad het.
Hy is deur sy dokter aangeraai om rem aan te draai en sy gesondheid eerste te stel. Apie is al vir agt jaar deel van Brakpan GPF, waarvan hy vyf jaar as voorsitter gedien het.
Hy glo dat hy ‘n goeie leier was, wat bystand en advies vir sy medemens kon gee.
Alhoewel hy van plan is om dit rustiger te vat, behou hy steeds sy pos as voorsitter van Sektor Een by Brakpan GPF.
LEES OOK: Leerlinge mik vir uitsaai waentjie
Sy mede GPF-lede het onlangs ’n geselligheid gehou waar hulle hom bedank het vir al die toegewyde en hardwerkende jare waarmee hy die gemeenskap van Brakpan gedien het.
Sy vrou Lorinda (66) en twee dogters Chareen (51) en Lee-Ann (45) wat beide in Benoni woon, het ook die viering bygewoon.
Volgens Apie was dit as lid van die GPF baie uitdagend om die gemeenskap se samewerking te kry.
“Mense besef nie dat die GPF lede die dienste vrywillig doen sonder enige vergoeding nie.”
Hy beweer dat GPF-lede in talle gevalle voor die polisie op ’n toneel is en daarom ‘n baie belangrike rol in die gemeenskap speel.
LEES OOK: Security guard injured during toll booth robbery
“Die GPF lid kan dan die situasie opsom en daarna besluit of die polisie wel benodig word.”
Buiten sy verpligtinge by die GPF is Apie bedags ‘n verkoopkoördineerder wat betrokke is met die vervaardiging en die verskaffing van spoorlynkomponente.
Hy het ook vir 34 jaar as reservis in verskeie provinsies gedien.
“Ek was ook bevoorreg om my offisiers kursus by die SAPD opleidingskool in die Paarl te kon verwerf.”
Apie vertel hy het ‘n groot vriendekring as gevolg van sy jare se dienslewering wat hy in verskeie gemeenskappe uitgevoer het.
“Ek sou egter niks kon bereik sonder die goeie ondersteuning, bystand en samewerking wat ek van my bestuurspan ervaar het nie,” het hy gesê.
“Ek is tevrede met die verloop van my lewe en is dankbaar vir dit wat ek reeds bereik het.”



