Laerskool Brakpan-Oos begin nuwe hoofstuk
Die Laerskool Brakpan-Oos vier sy 90ste bestaansjaar met groot veranderinge in skoolkultuur en gedrag.
In die jaar wat Laerskool Brakpan-Oos 90 jaar vier is daar besluit om ‘n nuwe hoofstuk vir die skool te begin, met William Daniels, die nuwe skoolhoof aan die stuur.
“Hoewel die skool trots is op sy ryke geskiedenis sedert 1936 is ons oë ook op die toekoms gerig. Ons wil ‘n plek wees waar kinders leer, sowel as waar waardes gevestig word, daar omgegee word en waar elke leerder die geleentheid kry om te groei,” het Daniels gesê.
Een van die fokuspunte in die skool se ontwikkeling is die bevordering van respek, verantwoordelikheid en ‘n positiewe skoolkultuur.
Die projek is afgeskop in Januarie toe lede van die SAPD en EMPD die skool besoek het om te praat oor skoolveiligheid, boeliegedrag, diefstal, respek en padveiligheid.

In Junie was daar partytjie gehou, sowel as ‘n reünie en die jaarlikse Kapperjolle Fees wat ‘n reuse sukses was, en in Augustus is die “Los Goeie Spore” veldtog aangebied.
Toe is daar gevra: “Watter spoor laat jy by ander mense?”
Die veldtog het leerders aangemoedig om vriendelik te wees, ander in te sluit, respek te toon en self die regte voorbeeld te stel.
In Oktober is daar voortgebou op die boodskap met die “Oosies staan op teen boelies” veldtog, wat op 9 Oktober met ‘n optog afgesluit is.
“Die boodskap was duidelik dat ons saam staan vir respek, insluiting en ‘n veilige skoolomgewing. Maar by Brakpan-Oos gaan dit nie net oor reëls en dissipline nie. Dit gaan ook oor omgee.”
Deur die Happie Helde inisiatief gee die skool aandag aan behoeftige gesinne in die skoolgemeenskap, met die ontersteuning van mense en organisasies wat bereid is om ‘n verskil te maak.

“Ons glo ook in die krag van samewerking met ouers en die breër gemeenskap,” sê Daniels.
Tydens die Graad Vier tot Ses ouerinligtingsaand het Phillip Brand, Annemarie Meyer van die Federation of Governing Bodies of South African Schools (FEDSAS) en Marina Adams van die Gauteng-Oos-distrik van die Departement van Onderwys as sprekers opgetree.
“Sulke geleenthede help om belangrike gesprekke aan die gang te sit en die vennootskap tussen die skool en ouers te versterk. Natuurlik is daar, soos by enige skool, uitdagings, wat ons dadelik hanteer op n daaglikse basis,” het Daniels verduidelik.
“Terwyl ons terugkyk op 90 jaar se geskiedenis, kyk ons met opgewondenheid vorentoe. Ons wil voortbou op dit wat ons voorgangers gevestig het en verseker dat Laerskool Brakpan-Oos ook vir die volgende geslagte ’n plek van groei, geleenthede en trots sal wees.”



