Hartaanval eis bekende inwoner
Sarie Roets het nooit geskroom om inwoners, wat by haar aangeklop het, te help nie.
‘n Jare lange inwoner van die dorp, Sarie Roets (75) is Maandagaand in die hospitaal oorlede nadat sy ‘n hartaanval in haar woonstel in Brakpan-sentraal gehad het.
Sarie was ’n bekende gesig in die dorp en het haar altyd beywer om van Brakpan ’n beter plek te maak.
Sy het graag inligting met die Brakpan SAPD gedeel in ’n poging om misdaad in die dorp hok te slaan.
LEES OOK: Paying tribute to a beloved friend
Persone wat nie hul eie vervoer gehad het nie, het ook gereeld by Sarie aangeklop vir hulp, waar sy gewoonlik uit haar pad gegaan het om te help.
Haar skoondogter, Tanja Lubbe het Dinsdagoggend aan die Herald gesê dat Sarie verlede jaar Covid opgedoen het en dat haar gesondheid daarna agteruit gegaan het.
Sarie se naasbestaandes het groot lof vir kapelaan Corné Rudolph van EMS en Maria Schutte van Jodamed.
LEES OOK: Pilot unharmed after emergency landing in Vosloorus
Volgens Tanja het hierdie twee mense nooit geskroom om vir Sarie by te staan wanneer sy mediese hulp nodig gehad het nie.
“Hulle was baie goed vir haar en ons sal hul ewig dankbaar wees,” het Tanja gesê.
Sarie was die afgelope drie jaar met Danie Aspeling (70) getroud. Sy laat ook twee dogters, Bettie Delport (55) en Tina Kotse (53) na. Sy het ook ‘n seun, wat oorlede is, gehad. Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.



