Local newsNews

Hoërskool Stoffberg hoofleiers betree 2023 met opgewondenheid

Onderhoud met hoof-seun en -dogter van Hoërskool Stoffberg

Die Herald het met die Hoërskool Stoffberg se hoofleiers vir 2023 gaan gesels. Cayden Vogel (CV) en Cassidy-Lee Doubell (CD) is opgewonde oor die jaar wat voorlê.

• Wat het deur jou kop gegaan toe jou naam gelees is?
CV: Ek het geëerd gevoel omdat ek die geleentheid gegun is om Stoffberg se naam hoog te hou.

CD: Ek was oorlaai met opgewondenheid, maar ook geskok, want dit het nie ingesink watter groot rol ek het om te speel in Hoërskool Stoffberg nie.

• Is leierskap ‘n doelwit wat jy vir jouself gestel het?
CV: Nee. Ek wou wel in ‘n posisie wees waar ek ‘n merk op die skool kon los.

CD: Dit is nie ‘n doelwit wat ek gestel het nie, maar ek het wel gemik om ‘n DK-lid te word om ten minste ‘n belangrike rol te speel.

• Wat maak van ‘n mens ‘n goeie leier en hoe gaan jy jou leierskap toepas?
CV: ‘n Goeie leier in my opinie is iemand wat nie bang is om van die pak af te dwaal en te doen wat hy/sy glo reg is nie. Ek sal altyd my bes probeer om eties op te tree en mense te help.

CD: Eienskappe wat ‘n goeie leier maak is volgens my lojaliteit, hardwerkend, uithouvermoë en omgee vir ander. Ek gaan almal in lyn hou en my pligte uitvoer tot die beste van my vermoë en hulpvaardig wees waar ek kan.

• Daar wag ‘n jaar vol verantwoordelikhede op jou. Waarna sien jy die meeste uit?
CV: Die inhuldiging van die graad 8s. Ek glo ons hele DK-groep is opgewonde om ‘n nuwe groep in ons Stoffie-familie te verwelkom.

CD: Om al die groot aktiwiteite saam my leier-familie en skool aan te pak.

• Watter uitdagings gaan jou die meeste pla?
CV: Daar is nie ‘n spesifieke uitdaging wat my laat ‘stress’ nie. Ek sien elke uitdaging as ‘n geleentheid om myself te verbeter.

CD: Om die skoene van my vorige hoofdogter vol te staan. Sy het hoë eise gestel en ek wil graag haar standaard handhaaf.

• Hoe wil jy na jou termyn onthou word?
CV: As iemand wat nie bang was om die waarheid te praat nie.

CD: As iemand wat Hoërskool Stoffberg ‘n beter plek gemaak het.

• Wat maak Hoërskool Stoffberg spesiaal?
CV: Die uniekheid en diversiteit van ons leerders.

CD: Ons hoof en ons onderwysers wat ons op die regte pad lei en ons as een groot Stoffie-familie saambring en saamhou.

• Wie is jou rolmodel?
CV: Ek het nie ‘n rolmodel nie. Ek glo nie ‘n persoon moet streef om iemand na te maak nie. Ek glo jy moet net werk om die beste weergawe van jouself te wees.

CD: Juffrou Marie Fourie, want sy is passievol oor haar werk en pak alles aan wat na haar kant toe kom met entoesiasme en ‘n glimlag.

• Wat is jou gunsteling vak en hoekom?
CV: Ekonomie. Ek voel dit gee mens baie insig oor hoe die wêreld werk.

CD: Verbruikerstudies, want dan het ek altyd ekstra kos om te eet en ek geniet dit om te kook.

• Beskryf jouself in een woord?
CV: Entoesiasties.

CD: Bedagsaam.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button