Local newsNews

Vrou wat haar beseerde man te hulp snel kry asma-aanval

‘n Inwoner van Brenthurst wat Maandagoggend ‘n asma-aanval gehad het, toe sy op pad was na die plek waar haar man in ‘n ongeluk was, is dankbaar teenoor die persone wat haar te hulp gesnel het.

‘n Inwoner van Brenthurst wat Maandagoggend ‘n asma-aanval gehad het, toe sy op pad was na die plek waar haar man in ‘n ongeluk was, is dankbaar teenoor die persone wat haar te hulp gesnel het.

Nicole Booyens (29) se nagmerrie ondervinding het begin pas nadat sy haar kinders, Daniel (7) en Emelia (5) by Laerskool Die Arend gaan aflaai het.

Haar man Jan (32) ry elke oggend basies dieselfde pad met ‘n bromponie na sy werkplek.

In die tyd dat sy die kinders by die skool afgelaai het, was Jan in Northdenelaan (naby die skool) in ‘n ongeluk betrokke.

“Op pad huis toe, het ek gesien daar is ‘n opeenhoping van verkeer maar ek gedink dit is weens die beurtkrag en het een straat vroeër afgedraai.

“Min het ek geweet dat my man ernstig beseer in die pad gelê het. Ek verwyt myself baie dat ek nie maar reguit aangery het en sodoende gouer by my man kon uitgekom het nie,” het Nicole vertel.

Sy antwoord nie haar foon terwyl sy bestuur nie. Daarom het sy eers toe sy by die gesin se huis in Brenthurst aangekom het die oproep beantwoord waarin sy meegedeel is dat haar man in ‘n ongeluk beseer is.

“Ek het die ergste verwag en net my sleutels en selfoon gegryp en sonder my asmapompie in my Volkswagen geklim om na die ongelukstoneel gery,” het Nicole vertel.

Naby die begraafplaas in Brenthurst het sy egter ‘n asma-aanval gepaardgaande met ‘n paniekaanval gehad.

“My bors het heeltemal toegetrek en ek het duiselig geraak. Ek het stilgehou en in die proses teen ‘n sypaadjie vasgery. Ek kon darem my Vollatjie tot stilstand bring.”

Nicole het uitgeklim en om hulp geroep terwyl sy al slegter begin voel het.

“Baie mense het net verbygery maar daar was ‘n man te voet. Hy het toe hy my sien na my gehardloop en gepoog om verbygangers se aandag te kry.”


ALSO CHECK: Youth have a part to play in the fight against crime


Volgens Nicole het daar eers ‘n vrou stilgehou en daarna was daar ook ‘n man by haar.

“Dit was die man wat met my na die Verre Oos-Rand Hospitaal gejaag het,” het Nicole vertel.

Volgens haar het sy en die weldoener byna dieselfde tyd as haar man (wat per ambulans vervoer is) by die hospitaal opgedaag.

Nicole was onmiddelik behandel en gerusgestel dat dit onder omstandighede goed gaan met haar man.

Sy is later die middag, na behandeling en waarneming ontslaan. Jan se linkerbeen is baie ernstig in die ongeluk beseer en hy is steeds in die hospitaal.

“My man se been is sleg gebreek en ons sal moet kyk wat die pad vorentoe gaan bring. Sy bromponie, sy vervoermiddel na die werk en terug, is afgeskryf.

“Ek is baie dankbaar teenoor die drie mense wat my te hulp gesnel het. Ek weet nie of ek dit sou gemaak het nie en ek was mal van bekommernis oor my man.”

“Ek het geen idee wie die mense is nie, want alles was so deurmekaar. Ek wil net vir hulle dankie sê.”




Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button