Oud-Anker se akademiese vernuf verstom
Dr Jabus van den Berg is op 29 Augustus 1994 in Springs gebore en het in 2012 aan Hoërskool Die Anker gematrikuleer as die top IT-student in die Gauteng-Oos Distrik.
Die ontwikkeling van ‘n nuwe moderne numeriese model tel onder die verstommende akademiese vernuf van ‘n oud-leerder van Hoërskool Die Anker.
Dr Jabus van den Berg is op 29 Augustus 1994 in Springs gebore en het in 2012 aan Hoërskool Die Anker gematrikuleer as die top IT-student in die Gauteng-Oos Distrik.
Hy het in 2013 vir ‘n BSc-graad in Rekenaarwetenskap met Fisika aan die Noordwes-Universiteit ingeskryf. Hy het ‘n ‘n BSc honneursgraad in Fisika met lof aan dieselfde instansie in 2016 verwerf.
Hy het daarna by die Noordwes Universiteit ingeskryf vir ‘n MSc-graad in Astrofisiese Wetenskappe, wat hy met lof verwerf het in 2018.
Tydens sy studies aan die Noordwes Universiteit het hy as leerfasiliteerder, laboratoriumdemonstrator, tutor en assistent-dosent vir verskeie fisika-modules gewerk.
LEES OOK: Sonneveld Akademie ondersteun Bybelstap
In sy tesis, Modellering van die loodregte vervoer van energieke elektrone in die binneste heliosfeer, het dr van den Berg die vervoer van gelaaide deeltjies deur die onstuimige interplanetêre plasma-omgewing ondersoek, met die fokus op diffusiewe beweging loodreg op die gemiddelde magnetiese veld.
Hy het ‘n nuwe moderne numeriese model ontwikkel wat die numeriese integrasie van ‘n stel stogastiese differensiaalvergelykings gebruik om die vervoer van lae-energie-elektrone vanaf die Joviese magnetosfeer na die aarde te simuleer.
Dr van den Berg het ook ‘n nuwe teorie voorgehou oor hoe turbulente skommelinge met gelaaide deeltjies in wisselwerking tree en die tradisionele koherente dryfbeweging ontwrig.
Gedurende Jabus se doktorale studies het hy in Griekeland, Switserland en in Duitsland voorleggings oor sy tesis gedoen. In Junie vanjaar was hy drie weke by die universiteit van Bochum in Duitsland vir navorsing oor sy tesis.



