Maak jou reg vir ‘n konsert met ikoniese kunstenaars
Die konsert word georganiseer deur Vonk Musiek en Spoegwolf en dien as viering van die land se belangrikste skrywers en grootste musieklegendes.
Musiekliefhebbers kan uitsien na ‘n onvergeetlike aand van musiek saam met Spoegwolf en van die land se grootste legendes op November 8, 2023, te Carnival City se Big Top Arena.
Die konsert word georganiseer deur Vonk Musiek en Spoegwolf en dien as viering van die land se belangrikste skrywers en grootste musieklegendes.
Die program sluit vertonings in deur Spoegwolf, die legendariese Anton Goosen, Dozi, Valiant Swart, Gian Groen, Ryno Velvet, die ikoniese Tasché en die opkomende duo, Vrede.
Spoegwolf is bekend as een van die land se beste groepe met hul lewendige optredes. Die groep bestaan uit Moskou du Toit (tromme, perkussie en sang), Chris von Wielligh (kitaar, klavier), Albert van der Merwe (baskitaar, sang, rymklets) en Danie du Toit (sang, kitaar, klavier). Hul treffers sluit in Loerie, Lenie Blou, Bittermaan en Somerset-Wes.
Spoegwolf het geskiedenis gemaak deur die eerste Afrikaanse musiekgroep te wees wat die nommer een plek op die Apple Music treffersparade in Suid-Afrika bereik het.

Anton Goosen, bekend as Die Liedjieboer, het geen bekendstelling nodig nie. Sy bydrae deur sy loopbaan het ‘n skatkis van Afrikaanse musiek opgelewer.
Hy verdien groot respek as die vader van Afrikaanse rockmusiek. Hy is veral bekend vir treffers soos Pas-getroud, Kruidjie-roer-my-nie, Trompie en Waterblommetjies.
Dozi is ‘n kunstenaar wat kultuurgrense oorskry met sy optredes in Afrikaans, Engels en Zoeloe. Sy bydrae tot musiek het hom reeds laat optree voor konings en staatshoofde regoor die wêreld.
Valiant Swart, ook bekend as die ‘mystic’ boer, is ‘n akteur, sanger en liedjieskrywer wat bekendheid verwerf het vir sy merkwaardige bydrae tot Afrikaanse musiek. Sy treffers sluit in liedjies soos Sonvanger, Mystic Boer en Eye Shadow.
Gian Groen het sy opkoms beleef as die stigter van die alternatiewe Afrikaanse rockgroep, Spinnekop.
Hy het homself gevestig as ‘n solo-kunstenaar met vrystellings soos Met die maan gepla, Welkom in Somersburg en Groen Kitaar.
LEES OOK: Choosing the right career path: a comprehensive guide for matrics
As liedjieskrywer het Gian vir legendes soos Laurika Rauch geskryf. Met sy jongste vrystelling, Loneley Troebadoer deel hy sy ervaring van isolasie as musikant gedurende die wêreldwye pandemie.
Hy het twee aaneenlopende weke op die RSG Top 20-treffersparade die nommer een posisie bereik. Ryno Velvet is ‘n Suid-Afrikaanse sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler wat gebore is in Bellville, Kaapstad.
Hy is veral bekend vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse rockmusiek en sy unieke styl om ‘n regshandige kitaar linkshandig en onderstebo te speel. In 2006 het Ryno Velvet bekendheid verwerf met sy treffer, Ai My Lam, en sedertdien het hy vier ateljee-albums vrygestel.
Tasché het haarself ‘n naam gemaak toe sy op 19-jarige ouderdom die derde seisoen van The Voice SA gewen het. Sy is verald bekend vir haar charismatiese verhoogpersoonlikheid en kragtige stem.
Vrede is ‘n alternatiewe folk-duo wat bestaan uit Storm Opperman en Francois Roux. Hulle is bekend vir hul opgewekte musiek wat ‘n positiewe boodskap uitstraal. Hulle domineer die trefferparades met liedjies soos Perspektief en Hart & Goud.
Kaartjies vir die vertoning is by https://itickets.co.za/events/474406 beskikbaar.



