Local newsNews

Carla se lig skyn helder

Haar mentor is Cillie Cilliers, wat nie net haar drama afrigter is nie, maar ook een van Carla se grootste ondersteuners is.

Carla Schönfeldt (15) het vanjaar weer eens met die hoogste toekenning, die toekenning vir die beste vroulike deelnemer (Grand Champion female actor), weggestap by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste.

Dié Graad 10 leerder aan die Hoërskool Stoffberg het die toekenning ook in 2020 en 2021 opgeraap. Tydens vanjaar se kampioenskappe het Carla ook die hoogste punte behaal uit al die deelnemers vanaf die ouderdomme van vyf tot 30 jaar.

Die kampioenskappe het vanaf 29 September tot 7 Oktober by Rustenburg plaasgevind. Carla het in verskeie items haar vernuf op die verhoog ten toon gestel en daarna met 10 goue, vier silwer en een brons medaljes weggestap.

Hierdie prestasie het haar ook die algehele wenner in die 13-15 jaar kategorie gemaak, waarna sy in aanmerking gekom het vir die beste vroulike deelnemer.

Die verhoog is vir hierdie blondekop geen vreemde plek nie. Sy neem al vanaf agtjarige ouderdom aan kompetisies deel en die magdom medaljes en toekennings wat sy sedertdien ingepalm het is oneindig.


Carla Schönfeldt met haar Grand Champion toekenning.

Volgens Carla se ma, Lilani Potgieter het Carla, sedert haar eerste deelname aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste reeds 133 goue, 36 silwer en 8 brons medaljes verower, ‘n medalje-oes van 177.

‘n Hoogtepunt was egter toe sy verlede jaar aan die Wêreldkampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste in Los Angeles deelgeneem het.

Tydens dié kampioenskappe het Carla teen 66 ander lande meegeding en het weggestap met die mees gesogte titel as die `Grand Champion of the World’ in die junior toneelspel afdeling.

Een van die opmerklike eienskappe van Carla is haar vermoë om haarself met perfeksie in enige karakter wat sy moet vertolk, in te leef tog bly sy nederig oor al haar prestasies.

“Ek hou maar my voete ferm op die grond. ‘n Mens is net is goed soos jou laaste optrede,” vertel Carla.


LEES OOK: Sallies Village influencer bags award nomination


Haar raad aan ander is om nooit groot kop te kry nie.

Sy het egter oor die jare nie net haar toneelspel verfyn nie, maar blink ook uit in ander aspekte van die uitvoerende kunste, soos dans, sang en modelwerk.

Sy het vanjaar ook vir haar skool se eerste netbalspan gespeel. Haar mentor is Cillie Cilliers, wat nie net haar drama afrigter is nie, maar ook een van Carla se grootste ondersteuners.

Oor wie haar gunsteling akteur is, spot sy altyd en sê dat Charlize Theron haar inspirasie is, aangesien sy ook van die Oos-Rand kom en vir haarself naam gemaak het.


Die talentvolle Carla Schönfeldt het vanjaar 10 goue, vier silwer en een brons medaljes tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste verower.

“Ek droom daarvan om eendag aan haar deur te klop en vir haar te sê, Jy mag dalk Charlize van Benoni wees maar ek is Carla van Brakpan,” sê sy.

Van benoude oomblikke op die verhoog kan Carla ook goed getuig. Die mees onlangse een was tydens die pas afgelope SA Kampioenskappe.

“Carla het ‘n reuse boom met honderde liggies as `prop’ gebruik op die verhoog en sy was dood benoud dat die liggies nie sou aangaan soos dit moes nie,” vertel Lilani.

Gelukkig het die boom se liggies perfek aangekom en geskyn net so helder soos wat Carla se lig skyn.



Follow Us: Facebook: Twitter: Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button